Werkers en sekuriteitswagte kom tot boere se redding

Werkers kies eerder om stil te bly, twee sekuriteitswagte ook geskiet in plaasaanval.

Terwyl die land in rep en roer is oor die misdaadsyfers wat onlangs bekend gemaak is, was ‘n plaas in Townlands naby Droogeheuwel die toneel van die ongelooflikste daad van welwillendheid.

Omstreeks 7.30nm op Sondag 27 September het vyf gewapende rowers ‘n aanval op Chris en Jeanette Vosloo se plaas Chinette Jersey Stoet en Melkery geloods.

Die Vosloos het ongeveer 7.15nm uit die melkstalle na hul huis toe gestap. Joseph Nhauntumbo, ‘n plaaswerker was besig om die kalfies melk te gee toe vyf rowers hom oorrompel en hom ‘n hou teen sy kop gegee het. Hulle het hom terug stalle toe gedwing.

Hulle het aangedring dat Nhauntumbo vir Chris bel en vir hom sê daar was fout met die melkmasjien. Hy en Amos Divane en Ben Mavea, twee ander werkers wat ook in die stal was, het geweier om hul werkgewer te bel.

Die rowers het toe die drie werkers probeer dwing om hulle na die Vosloos se huis toe te neem, maar ‘n flink en dapper Nhauntumbo het vir hulle gesê daar is kameras en alarms reg rondom die huis.

Die rowers het hulle daarna onder dwang na hul woonkwartiere op die plaas geneem, waar hulle die drie asook 10 ander plaaswerkers asook vroue en kinders vasgebind het.

Die reëling is dat die werkers saans vir Chris teen omstreeks 8nm bel nadat hulle klaar gemelk het sodat hy die alarm kan aktiveer. Om 8.30nm het die Vosloos besef iets was verkeerd en al die plaaswerkers se fone was af. Hulle het dadelik die paniekknoppie gedruk waarop Boz Sekuriteit onmiddellik gereageer het en ‘n reaksieoffisier kort daarna opgedaag het.

Die helde. Die plaas se trotse werkers Amos Divane, Joseph Nhauntumbo en Ben Mavea.

Kiewiet Pretorius, Boz-reaksieoffisier het vir Chris gesê om liewer tuis te bly toe hy na die werkers se kwartiere toe is om te gaan ondersoek instel. Chris het vir Pretorius gewaarsku om baie versigtig te wees want hy het geglo hul plaaswerkers word aangehou. Toe Pretorius naby die woonkwartiere kom, het skote begin afgaan en hy is vier maal in die bene getref. Pretorius het ten spyte van sy eie wonde daarin geslaag om een van die rowers dood te skiet.

Die Vosloos het dadelik weer vir Boz gebel en gevra dat hulle versterkings stuur. Thys de Beer het kort daarna opgedaag en een van die rowers vasgekeer. Thys is egter ook raakgeskiet. Die ander drie rowers het toe gevlug.

‘n Netcare-helikopter is na die plaas ontbied waar hulle na die beseerdes omgesien het. Randfontein Polisie, lede van die Sektor 4-gemeenskapspolisiëringsforum, EPR, Mapogo en Randfontein-nooddienste was ook op die toneel.

Die Vosloos bedank Boz Sekuriteitsgroep, die Randfontein Polisie en almal wat hulle te hulp gesnel het.

Hulle sê ook dankie vir Pretorius en De Beer wat hul lewens op die spel geplaas het en tans in die hospitaal aansterk. Hulle wens die twee offisiere sterkte en beterskap toe.

Alle boere moet asseblief daarop let dat die meeste van hierdie aanvalle deur hul eie plaaswerkers beplan word, maar ons drie plaaswerkers het ons lewens gered. Ons is baie dankbaar teenoor hulle,” het Chris gesê.

Hulle grootste dank gaan aan die Here, wat hulle beskerm het.

“Al die eer aan ons Koning Jesus wat ons beskerm het. Hy is ons banier. As ons net vyf minute later die stalle verlaat het, het die rowers ons definitief aangeval.”

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Paartjie kort na beurtkrag aangeval

Middeljarige vrou vir R100 aangeval

Vrou dood gevind in woonstel

Son murdered, father attacked

Family attacked in home

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version