Jannas krieketkampioene twee jaar in ‘n ry

'Hierdie is ‘n spesiale groep seuns wat nou al vir ‘n paar jaar saamspeel'

Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) se eerste-krieketspan het geskiedenis gemaak deur vir die tweede agtereenvolgende jaar as Wesrand wenners gekroon te word.

Dit volg na hulle vir Hoërskool Riebeeckrand in die eindstryd die opposisie vernietig het met agt paaltjies.

In die poelfases het Jannas in hul eerste wedstryd teen Hoërskool Fochville te staan gekom. Volgens Tamaryn Smith, woordvoerder van Jannas was dit ‘n taai wedstryd maar Jannas se eerstespan het uiteindelike geseëvier met vier paaltjies.

Daarna het Jannas kragte gemeet met Randfontein Secondary School en gemaklik gewen met 210 lopies.

Hoërskool Bekker was volgende op die kampioene se kerfstok en moes stert tussen die bene van die veld stap nadat Jannas gewen het met ses paaltjies.

Hoërskool Carletonville het ongelukkig onttrek teen Jannas, wat die punte vir die wedstryd gekry het.

In die ander poel het Hoërskool Riebeeckrand ook al hulle wedstryde gewen en sodoende hul plek bespreek in die eindstryd.

Die finaal was gespeel op Saterdag 12 September by Randfontein Krieketklub. Jannas het die loot gewen en gevra dat Rierand eerste moet kolf. Die boulers van Jannas was in ‘n verwoestende bui en het ontslae geraak van al Rierand se kolwers vir slegs 138 lopies.

Jannas het daarna gaan kolf en was vroeg in die moeilikheid nadat een van die aanvangskolwers uitgeboul is in die derde beurt. John van Rensburg en Wendell Stellenburg het egter vasgestaan met 59 en 28 lopies onderskeidelik.

JP Brummer het na die vertrek van John, verwoesting gesaai onder die boulers en ‘n paar uitstekende grenshoue gemoker. Na slegs 32 beurte het Jannas verby Riebeeckrand se totaal gegaan om die wedstryd te wen met agt paaltjies.

“Hierdie is ‘n spesiale groep seuns wat nou al vir ‘n paar jaar saamspeel. Hulle harde werk is beloon en ons as afrigters is verskriklik trots op hierdie manne. Ons wil ook van die geleentheid gebruik maak om ons borg, Westonaria Toyota, te bedank vir drie jaar se ondersteuning.” vertel George Smith, afrigter van die span.

Hierdie span sal nou teen Hoërskool Monument te staan kom in die uitspele vir die Noordvaal kompetisie. Hierdie kragmeting vind plaas op Woensdag 23 September by die Randfontein Krieketklub.

Exit mobile version