CrimeLocal newsNews

‘Ek is jammer’ — Johnny Rodriques

Hierdie kan dalk net die draaipunt in 'n jong man se lewe wees.

Johnny Rodriques het op 16 September die Herald se kantore binnegestap en gesê hy wou vir die publiek en spesifieke persone om verskoning vra vir al die insidente waarby hy die afgelope tyd betrokke was.

In Julie het die Herald berig oor verskeie klagtes wat teen Rodriques ingebring is. Op 4 Julie was hy betrokke by die vandalisering van ‘n bekende familierestaurant in Randfontein.

Hy het op 10 Julie in die Randfontein Landdroshof verskyn, waar die borgaansoek tot 16 Julie uitgestel is. In die hof het sake drasties verander nadat die minimale aanklagte teen hom op die klagstaat verander het na 14 aanklagte. ‘n Artikel 1-misdryf is verhoog na Artikel 5-misdrywe wat baie ernstiger is.

Die aanklagte sluit in:

• Twee pogings tot moord
• Bestuur sonder ‘n lisensie
• Intimidasie
• Roekelose bestuur
• Aanranding met die opset om te beseer
• Kwaadwillige saakbeskadiging

Rodriques het weer op 17 September in die hof verskyn, waar sy verhoor uitgestel is tot 22 September, aangesien sy prokureur weens persoonlike verantwoordelikhede nie beskikbaar was nie. Rodriques was vir drie weke in die gevangenis, maar is die afgelope tyd onder huisarres.

Hy het ook die volgende paroolvoorwaardes:

• Hy word net ‘n sekere tyd gegee waarin hy kan oefen.
• Hy mag nie ‘n voertuig bestuur nie.
• Hy mag nie alkohol of steroïede gebruik nie.
• Hy word weekliks getoets vir die gebruik van bogenoemde.
• Hy mag nie naby kroeë of klubs kom nie.
• Hy moet verslag doen aan sy paroolbeampte.

Hy het vertel dat die gebruik van steroïede en alkohol sy aggressiewe optrede veroorsaak het. Hy wil ook vir die gemeenskap sê dat daar geen rede is om hom te vrees nie.

Hy vra opreg om verskoning vir die volgende:

• Die Legend-restaurant se eienaars
• Tom Slater
• Ruan Steyn
• Thart Gouws
• Corwin Williams
• Vir sy intimidasie teen Droogeheuwel
• Eienaars van Ou Van’s
• Cascades-eienaars en -bestuur

Rodriques het gesê, “Ek is jammer vir al die ongerief wat ek veroorsaak het, en oor dié wat beseer is. Ook aan Droogeheuwel, The Legend, Ou Van’s en Cascades, waar hulle naam in die gedrang gekom het deur my optrede.”

By die Herald se kantore het Rodriques sy storie kalm en nederig vertel. Hy lyk presies die teenoorgestelde as toe die Herald hom in Julie by die Randfonteinse hof gesien het. Hy het positief gesels oor moontlike berading en hulp wat hy in die toekoms gaan kry.
Met die hoop wat in sy oë skyn, kan hierdie dalk net die draaipunt in ‘n jong man se lewe wees.

Rodriques het ook baie dankie gesê vir sy pa, broers, ander familie en Lindsay, sy meisie, wat hom deur alles ondersteun het.

Soos hulle sê, “Almal verdien ‘n tweede kans.”

Related Articles

Back to top button