VIDEO: Groot encore vir Ram se Elvis-revue

Laerskool Randfontein se revue gebaseer op Elvis Blue se treffer: Toe ons jonk was.

Laerskool Randfontein (Ram) het op Donderdag 3 September hul jaarlikse revue aangebied en kaartjies het soos soetkoek verkoop.

Vanjaar se tema, Toe ons jonk was, is gebasseer op Elvis Blue se treffer met dieselfde titel. Die revue was so ‘n groot sukses dat leerlinge selfs ‘n ekstra aand moes optree sodat al die ouers dit kon bywoon.

Leerlinge het hul gate uit geniet op die verhoog terwyl die gehoor hande geklap en lekker gelag het. Hier en daar het ‘n opgewonde ma en pa selfs hul kind aangemoedig deur op die stoele te staan.

Seuns en dogters se gesigte was vol blinkers en hulle het ‘n skouspel uit die boonste rakke opgedis. Die spelers het nie net Ram-leerlinge ingesluit nie maar Ram se onderwysers was in tonele soos die een van ‘n egte boeretroue.

Onderwyser Riekie Gerber het die revue georganiseer.

“Dit was vir my ‘n besonderse voorreg om aan die stuur van Laerskool Randfontein se revue te wees. Ons het reeds vroeg vanjaar met voorbereiding vir hierdie groot geleentheid begin.

“Elke graad het hul liedjies ontvang en ywerig begin om die woorde en melodieë te leer. Dit was veral belangrik vir ons skoolhoof, Leon Haupt, dat leerlinge moes saamsing. Daarna het ons ure lank die bewegings ingeoefen. Dit was geen ydele taak nie aangesien die bewegings die gekose liedjie moes uitbeeld en alles ‘n geheel moes vorm.”

Riekie het vertel dat die onderwysers van elke graad die kostuums gekies het.

“Dit was ook nie maklik nie; dit moes gepas wees en die onderskeie onderwysers het ‘n begroting gehad waarbinne hulle moes werk. My opregte dank en waardering aan elkeen wat hard gewerk het aan die sukses van Ram se revue,” het Riekie gesê.

 

Exit mobile version