Local newsNews

Spaar nou vir 2016 se Skou

Spaar jou sente vir die 2016 Randfontein Skou en wen groot pryse.

Spaar, spaar, spaar.

Dit is die boodskap vanaf organiseerders vir volgende jaar se Randfontein Skou. Die 2016 Randfontein Skou vind plaas vanaf Donderdag, 3 Maart tot Sondag, 6 Maart.

Volgens Marcelle Mans, skoukoordineerder het die skoukomitee dit goedgedink om hulle eie “Randfontein Skou Spaarblikkie Projek” te loods om kinders en volwassenes te help om vir die volgende ses maande tot die skou, te spaar om sodoende meer fondse beskikbaar te hê vir die opwindende malle meule ritte, elke dag se top vermaak en smullekker kos.

Om te spaar is ‘n goeie dissipline en daar is ‘n groot beloning. Drie groot, wonderlike pryse kan gewen word.

Eerste Prys: Skou Toegangskaartjies vir ‘n familie van 4 vir elke dag van die Skou – waarde R840; Tweede Prys: Skou Toegangskaartjies vir ‘n familie van 4 vir 2 dae van die Skou, asook malle meule kaartjies tot die waarde van R260 – totale waarde R 700 en derde Prys: Malle Meule kaartjies tot die waarde van R500.

Ons vier ons 30ste Skou en wil dit sover moontlik bekostigbaar maak vir skoubesoekers om die Skou meer as een keer te besoek,” sê Marcelle.

Sy het bygevoeg, “‘n Naamlys register van blikkies aangekoop, gaan gehou word vir die gelukstrekkings wat op 25 Februarie 2016 aangewys sal word. Talle veelkleurige skou spaarblikkies is vanaf 1 September 2015 tot 24 Februarie 2016 teen R15 beskikbaar by die Skoukantoor, Greenhills Sport Stadion. Kom koop joune nou en begin spaar vir die groot feesvier vanaf 3 tot 6 Maart 2016.”

Vir meer nuus oor die 2016 Randfontein Skou, besoek gerus ons webblad www.randfonteininfo.co.za of gesels saam op ons Facebook blad.

• Navrae: Skoukantoor 011 412 2878/1562 of epos joy@randfonteininfo.co.za.

Die veelkleurige spaarblikkies is teen R15 beskikbaar by die Skoukantoor vanaf 1 September tydens kantoorure.

Related Articles

Back to top button