Local newsNews

‘n Skatkis vol tropiese visse

Die Herald gesels met 'n vrou wat met 'n hele verskeidenheid tropiese visse boer.

Die Herald het onlangs vir Elzette du Plessis van Ravenstraat besoek waar sy met ‘n hele verskeidenheid tropiese visse boer.

Elzette hou al drie jaar lank tropiese visse aan. Sy het vertel dat sy nog altyd ‘n groot liefde daarvoor gehad het. Elzette het die Plecostomus- of Pleco-, Mono Angel- en die Malawi-visse met die Herald bespreek.

Al die tropiese visse lewe in ‘n temperatuur van 26-26oC, waar die biologiese stelsel van die tenk baie natuurlik moet wees. Dryfhout in die tenk help baie om die water te versag.

Die visse se mis vorm ‘n belangrike deel van die stelsel want dit voed die bakterieë wat nodig is vir ‘n gesonde biologiese stelsel. Elzette gebruik ook slakke en Pleco’s om die alge in die tenks te beheer.

Die slakke help om die alge in die tenk te beheer.
Die slakke help om die alge in die tenk te beheer.

Mono Angel-visse kan in varswater oorleef, maar die beste habitat is soutwater, veral as hulle ouer word. Mono Angels staan ook bekend as die Malayan Angel en vingervis.

Die Mono’s se oorsprong is Afrika, Asië and Australië. Hul skubbe is silwer en hulle het groot, geel vinne met ‘n swart buitelyn. Mono’s is baie vredeliewende visse, hulle is omnivore en eet ook gevriesde kos, groente-afval en vlokkies.

Die Plecostomus kom oorspronklik uit die tropiese gebiede van Suid-Amerika. Dié omnivore leef van alge en waterplante. Pleco’s word nie langer as 50 sentimeter nie. Mense hou hulle meestal net aan om alge te beheer.

Malawi-visse staan ook bekend as Cichlids, en hulle is ‘n aanwins vir ‘n vistenk. Hulle is baie energiek, en daarom is dit lekker om hulle dop te hou.

Die Plecostomus se gunsteling kos is alge.
Die Plecostomus se gunsteling kos is alge.

Die verskil tussen die Malawi-visse en ander spesies is dat hulle baie territoriaal is. As jy ‘n tenk vol vermaaklike en interaktiewe visse wil hê, is die Malawi-visse die antwoord. Malawi-visse is baie aggressief omdat hulle so territoriaal is, en is baie intelligent.

Hulle is lief vir interaksie met mense en moet ‘n goed gebalanseerde dieet van gevriesde en droë kos kry.

Malawi-visse mag glad nie bloedwurms inneem nie, aangesien dit die sogenaamde Malawi bloat veroorsaak. As die visse reg is om te broei, dan verhelder die mannetjie se kleure, en hy kan dae lank probeer om die wyfie die hof te maak. Hy sal haar dan na sy eie spesiale gebied neem, waar hy ‘n skuddans uitvoer om haar te beïndruk.

Die wyfie hou al haar eiers in haar bek, waar hulle na 21 dae uitbroei. In dié tydperk sal die wyfie nie eet nie. Malawi-wyfies is goeie ma’s en hulle sal so lank as moontlik hulle broeisel by hulle hou.

Om tropiese visse aan te hou, is nie harde werk as jy die biologiese stelsel onder beheer het nie, en die vrugte wat jy pluk is ‘n rustige atmosfeer in jou huis waarvan die natuur ‘n deel vorm. Daar is niks mooier as om in die aand rustig na jou tropiese visse te sit en kyk nie.

As enige iemand meer inligting oor tropiese visse wil hê, of dalk wil koop, skakel gerus vir Elzette by 082 567 0450.

Die Mono Angel, die vredevolle spesie.
Die Mono Angel, die vredevolle spesie.

Related Articles

Back to top button