Local newsNewsSchools

Rierand-seuns leer oor testikulêre kanker

Praatjie op 'n humoristiese manier aangebied.

Testikulêre kanker was onlangs die groot besprekingspunt onder seuns van Hoërskool Riebeeckrand toe die African Survivor Foundation (ASF) kom kuier het.

Batten en Gert de Beer van ASF was daar om met die seuns te praat. Die praatjie is op ‘n baie humoristiese manier aangebied – ‘n rugbybal is gebruik om vir die leerlinge te verduidelik hoe om hulself te ondersoek. Die seuns het aandagtig geluister en ook talle vrae gevra oor testikulêre kanker.

Iain, wat self kanker oorwin het, het Rierand se seuns aan sy lippe laat hang toe hy vertel het hoe hy in 2003 na ‘n breukoperasie ingelig is dat hy testikulêre kanker (stadium drie tot vier) het.

Volgens Batten is dit ‘n gevaarlike stadium van die tipe kanker. Hy het toe verskeie chemoterapiebehandeling ontvang. Hy moes na drie maande teruggaan vir ‘n opvolgondersoek maar het dit probeer vermy.

In 2006 het hy die skokkende nuus ontvang dat die kanker terug was en hy moes pynlike bestraling ontvang. Hy as ‘n sterk man is deur die pyn tot trane gedwing. Hy het die proses beskryf as die ergste sonbrand wat ‘n mens kan opdoen. Iain het weer nie vir sy driemaande-ondersoek gegaan nie en het in 2009 verneem dat hy aan elke kant van sy longe kwaadaardige knoppe gehad het.

Iain het daarna die swaarste tipe chemoterapie ontvang, wat bekend staan as ‘Red Devil chemo’.

Gert de Beer, een van die stigters van ASF saam met Duncan Kruger, 'n Rierand-leerling en Iain Batten, die ander stigter van ASF wat kanker oorwin het.
Gert de Beer, een van die stigters van ASF saam met Duncan Kruger, ‘n Rierand-leerling en Iain Batten, die ander stigter van ASF wat kanker oorwin het.

Hy moes ook ‘n strawwe dieet volg, want die chemosessies dreineer jou liggaam van alle voedingstowwe. Sy daaglikse voedsel het bestaan uit gekookte hoender sonder speserye en gekookte broccoli.

Die gewig wat ‘n persoon verloor deur die chemoterapie is onwerklik en die susters het selfs gesukkel om my are te vind,” het Iain verduidelik.

Hy het later nie meer vir die behandeling kans gesien nie en wou dit staak, maar hy het ‘n spirituele belewenis van God gehad waarna hy besluit het om op te staan en te veg teen die siekte. Hy het al sy sessies bygewoon en vandag is hy gesond en kankervry.

Persone wat gevaar loop vir testikulêre kanker:

• Indien testes abnormaal ontwikkel

• Dié wat reeds testikulêre kanker gehad het

• Familiegeskiedenis van testikulêre kanker

• Dié met MIV/ Vigs

• Dié met vrugbaarheidsprobleme

• Daggarokers

Een van die vrae van die leerlinge was of mans dié tipe kanker kan kry as hul testes beseer word, byvoorbeeld as ‘n bal jou daar tref.

Iain het verduidelik dat dit darem nie kan gebeur nie en baie van die leerlinge het verlig gelyk. Hy het die belangrikheid van selfondersoek beklemtoon, en ook bewusmaking in die gemeenskap oor die tipe kanker waaroor mans nie graag praat nie.

Die leerlinge het nie net baie geleer nie, maar ook die praatjie baie geniet.

Iain Batten, een van die stigters van ASF wat kanker oorwin het.
Iain Batten, een van die stigters van ASF wat kanker oorwin het.

Related Articles

Back to top button