Rierand-engele bederf oues

Julle het leemtes gevul wat ons nie altyd kan nie – maatskaplike werker.

Hoërskool Riebeeckrand se Junior Raad, bekend as die engele het op 4 Augustus vir bejaardes van die Vriendskap Tuiste ouetehuis vir Vrouedag bederf.

Drie leerlinge van die skool, almal in Graad 11 het saam met Elzeri Wright (Rierand-woordvoerder) en Sandra Rall (‘n onderwyser) deur die tuiste gestap en geskenkies uitgedeel.

Die leerlinge het met die bejaardes geselsies aangeknoop en was oorweldig deur die inwoners se dankbaarheid.

Clarice Hoffman, Chadonay van der Linde en Leane van Aswegen het behoorlik gestraal. Die bejaardes het hul opregtheid raakgesien en waardeer.

Dafney van der Merwe, ‘n inwoner van die ouetehuis het gesê,

Baie dankie vir die lekkernye. Op my ouderdom hoef ek nie meer oor my figuur te bekommer nie. Snags 12uur raak ek honger en dan geniet ek my soetgoed so.”

Die leerlinge het onder andere waslappies, koekies, komberse, onderarmsproei en sjokolade uitgedeel.

Hulle kommentaar was, “Ons voel so vol liefde, ons kan nie ophou glimlag nie. Dit is hartseer as jy die siek bejaardes sien, maar ook die wat alleen is. ‘n Mens kan sien baie van die bejaardes wil gesels, hulle wil ons vertel van hul kinders, skooldae en lewe.”

Marijke van Zyl, ‘n maatskaplike werker by die ouetehuis het leerlinge en personeel bedank.

Dankie vir wat julle vandag gedoen het, julle het leemtes gevul wat ons nie altyd kan nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version