Geliefdes groet die Groot Blonde Flank

Familie, vriende en die Goue Leeus Rugby Unie neem afskeid van 'n pa en ysterflank.

Die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU), familie en vriende is geskud deur die tragiese dood van die voormalige Transvaal-rugbyspeler Charles Pieterse, beter bekend as die Groot Blonde Flank.

Pieterse is op Woendag 22 Julie op die ouderdom van 56 in ‘n motorongeluk naby Lanseria oorlede. Hy was glo op pad terug van sy wildsplaas af.

Sy begrafnisdiens was Vrydag 31 Julie in die Helikon Park NG Kerk. In ‘n stampvol saal het honderde mense hulde aan Pieterse gebring.

Pieterse was vir die afgelope tyd die beskermheer van Randfontein Rugbyklub, ‘n gesiene lid van die gemeenskap en hoof van ‘n hegte gesin.

Charles Pieterse.

In die tagtigerjare was Pieterse ‘n uitblinkerflank vir Transvaal (nou Goue Leeus) en was deel van ‘n fenomenale los trio saam met die Springbokke Jannie Breedt en Wahl Bartmann. As dit nie was vir die Bokke se isolasiejare waartydens hulle nie internasionale rugby gespeel het nie, sou Pieterse sy Springbok-kleure verwerf het.

Pieterse het Teine se eerstespan verteenwoordig en daarna is hy vir Transvaal gekies. Hy het 50 keer vir die unie uitgedraf. Hy het ook die Suid-Afrikaanse Barbarians verteenwoordig.

Charles Pieterse (Transvaal) duik oor vir ‘n drie met ‘n Wes-Transvaal-verdediger wat toekyk.

Pieterse was nie net ‘n skitterende rugbyspeler nie, maar ook ‘n suksesvolle sakeman in die konstruksiebedryf.

Op die rugbyveld is hy nie verniet die Groot Blonde Flank genoem nie. Hy was groot en sterk en alhoewel hy nie so vinnig was nie het sy kragwerk baie vir sy span beteken. Hy word in die rugbywêreld beskryf as ‘n stil, eenkant mens waarop altyd staatgemaak kon word. Sy wit hare was net so opvallend op die veld soos dié van Jean-Pierre Rives van Frankryk.

Kevin de Klerk, die GLRU-president het namens homself en die unie sy diepste simpatie aan die Pieterse-familie oorgedra.

Charles was altyd ‘n nederige mens en ‘n ware heer. Hy was ook ‘n tawwe man en ‘n baie lojale rugbyspeler.”

Pieterse word oorleef deur sy vrou Anita, sy seun, dogter, familie en talle vriende.

In twee hartroerende briewe deur sy seun en dogter aan hul pa het hulle hom bedank vir die pa wat hy was, sy liefde en die groot rol wat hy in hul lewens gespeel het. Dit was ‘n baie emosionele oomblik vir die hegte gesin toe die briewe gelees is.

Daar word vertel dat Pieterse in die laaste oomblikke van sy lewe vir Anita gesê het,

Ek is besig om te sterf … hou my vas … jy was altyd alles in my lewe …”

Lourens Dunn (skoonseun) en Charles Junior (seun) dra die kis uit die kerk uit.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Former Proteas captain passes away

Vaarwel ons kaptein

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version