‘n Vrou van vele talente

Tania is die dogter van die bekende gospelsanger Willie Botha.

Tania Strauss, ‘n gebore Randfonteiner en ma van twee tieners is ‘n vrou van vele talente. Nie net kan sy sing nie, maar ook skryf en inspireer.

Tania het in die musiekbedryf grootgeword en reeds van ‘n jong ouderdom af baie ure in klankateljees spandeer.

Sy is ook die dogter van die bekende gospelsanger, Willie Botha.

Tania het haar eerste solo-album opgeneem toe sy slegs 12 jaar oud was. Sy was een van die jongste sangers wat destyds meer as een keer by een van Suid-Afrika se grootste binnehuiskonferensiesentrums opgetree het.

Gedurende haar sangloopbaan het Tania reeds nege solo-CD’s, twee duet-CD’s, ‘n enkelsnit-CD, vyf DVD’s en boek vrygestel.

Tania is beslis nie net ‘n sanger nie, maar ook ‘n baie bekwame liriekskrywer. Daarvan getuig vele gewilde liedjies naamlik Ek sal nie twyfel, Genees hierdie land (saam met Bobby van Jaarsveld) en Hou my vas.

Tania het vir vyf jaar ‘n program op TV gehad en ‘n radioprogram vir twee jaar lank aangebied. Vir talle kykers is haar unieke manier van aanbieding beslis ‘n groot inspirasie.

Vanjaar het sy die geleentheid en groot voorreg gehad om by die Wêreldbiddag vir Vroue in Randfontein te bedien. Tania is die stigter en direkteur van die Annabel Foundation – ‘n baie suksesvolle landswye liefdadigheidsorganisasie wat honderde minderbevoorregte tienermeisies versorg deur maandeliks vir hulle higiëneprodukte te verskaf en gratis afrondingsklasse aan te bied.

Tania Strauss, die gospelsangeres.

Afgesien van Tania se besige skedule is sy ook ‘n baie toegewyde ma van twee tieners en die vrou van haar grootste ondersteuner en klankman.

Een van my grootste vreugdes in die lewe is om ‘n ma te wees, maar dit is ook die taak met die grootste uitdaging. Nêrens is daar ‘n handleiding, spesifiek vir jou en jou kinders nie,” het Tania gesê.

Omdat Tania selde haarself bemark of oor dit wat sy al bereik het gesels, word sy al tong-in-die-kies geterg omdat sy tydens media-onderhoude nie veel oor haarself praat nie maar altyd oor God en Sy mooi mense.

Tania het die vermoë om mense se harte aan te raak deur die passie en deernis waarmee sy sing en praat. Sy is een van die vrouesprekers wat dit beslis regkry om altyd vroulik en met finesse tog kragtig te bedien.

Tania bied Saterdag 29 Augustus om 9vm ‘n egte vroue/ma-oggend vir vroue in Randfontein aan. Die tema is: Onder die boom ma’s.

Tania verduidelik,

“Dis vir ons almal wat so baie ure lank in motors onder bome vir ons kinders moet wag – dit is nou as ons so gelukkig is om ‘n boom te kry. Ons almal worstel met dieselfde vrae en vrese.”

• Navrae: Skakel gerus vir Tania by 083 504 0253 of e-pos haar by tania@comsys.co.za.

Exit mobile version