Man oorleef twee meter lang koevoet deur sy lyf

As hy die koevoet self uitgetrek het, was hy binne tien minute dood – professor.

Danie de Wet se lewe het een Saterdag in Januarie vanjaar by die Driefontein-myn in Carletonville waar hy werk letterlik aan ‘n koevoet gehang.

De Wet was met verlof toe hy die protospan gaan uithelp het waar hulle slik uit ‘n dam moes pomp.

Hy het die koevoet soos gewoonlik in die klep gedruk sodat die modder kon uitkom. Hy moes daarna op ‘n pyp trap om uit die dam gelig te word. De Wet se voet het op die pyp gegly en die koevoet wat 5,5kg weeg is en ongeveer twee meter lank is, het deur sy linkerlies gesteek en agter by sy linkerblad uitgekom.

De Wet het gesê hy het in daardie stadium geen pyn gehad nie, hy het net oor sy skouer gekyk en die punt van die koevoet by sy rug sien uitsteek. Hy het selfs probeer om die koevoet van onder af uit sy lyf te trek, maar hy kon nie vashouplek kry nie. Daar was twee werkers naby en toe hulle sien wat gebeur het, het hulle paniekbevange geraak.

De Wet het net sy oë toegemaak en gebid, en het dadelik aan sy vrou en drie kinders gedink. Die gedagte dat hy hoop hy sou hemel toe gaan, het by hom opgekom. Hy het aan die werkers gesê hulle moes kalm bly want hy leef en alles sou uitwerk. Hulle het die noodpersoneel by die myn oor die radio van die gru-ongeluk in kennis gestel. Met hulle aankoms het De Wet vir hulle verduidelik dit sou beter wees as hulle die draagbaar onder hom sit.

‘n Drie dimensionele kyk na waar die koevoet presies deur Danie de Wet se lyf gesteek het.

Hy het so op die draagbaar gesit terwyl hulle hom 30 tot 40 meter ver deur die modder gedra het. Die myn se paramedici het hom met morfien teen pyn ingespuit. Van daar af was hy vir die volgende twee weke van niks om hom bewus nie.

Om met koevoet en al te kon inpas, moes daar selfs panele uit die helikopter gehaal word wat vir De Wet direk van die myn af Netcare Milpark Hospitaal toe vervoer het.

Spesialistraumachirurg professor Kenneth Boffard en sy span mediese spesialiste het De Wet by die hospitaal ingewag. Daar het hulle hom deur ‘n driedimensionele tonnel gesit waar hulle presies kon sien wat die skade was. Die feit dat De Wet nie die koevoet kon uittrek nie, was ‘n bestiering aangesien hy binne 10 minute sou gesterf het, het Boffard later gesê.

Daardie aand is die eerste operasie gedoen waartydens die koevoet uit sy lyf verwyder is. Hulle het sy borskas oopgesny waarvoor hy 72 steke gekry het. Die operasie het vier uur geduur en hy was daarna op ‘n nier- en ‘n asemhalingsmasjien. Die Maandag daarna is die tweede operasie uitgevoer om rekonstruksie te doen.

Wat hierdie verhaal nog merkwaardiger maak is dat De Wet net een nier verloor het, ribbes gebreek het en ‘n gaatjie onder sy long opgedoen het. Op dag 13 het hy begin praat, op dag 15 het hy geloop en op die 19de dag is hy uit die hospitaal ontslaan. Boffard het hom só gerusgestel oor die nier wat hy moes prysgee: “God made us with two kidneys, but he made us in such a way that we could function with one.”

Danie de Wet met die koevoet wat deur sy lyf gesteek het.

De Wet se kollegas het baie emosioneel gereageer toe hy hulle verras het deur te begin loop. Trane het oor geharde mans se wange geloop. Die ondersteuning van die gemeenskap, myn, kerk, familie en vriende was ongelooflik. De Wet het ook al sy getuienis by verskeie kerke en skole gegee.

Op 1 Junie het Boffard toestemming gegee dat De Wet weer kon begin werk. Hy het daardie aand dadelik ingespring en vure gaan doodslaan saam met sy protospanlede. Hy beplan ook om volgende jaar sy agtste Comrades aan te pak.

De Wet se lewe is ‘n wonderwerk en in die hospitaal het hulle hom die naam Miracle Man gegee. Hy neem die gebeure van daardie dag nie ligtelik op nie en hy weet dat die Here hom bygestaan het. Hy sê ” Wonderwerke gebeur elke dag en gebed is die kragtigste. Maak seker jy is reg as dit jou tyd is.”

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version