Rierander ervaar Duitsland

Die lang dae, veilige openbare vervoer en Oreo-koffie is net ‘n paar dinge wat Karoline gaan mis.

Al is Hoërskool Riebeeckrand-leerling Karoline Strydom nou eers in Graad 11, toer sy die hele wêreld vol – oftewel die hele Duitsland.

Karoline het onlangs die geleentheid gehad om dié Europese land as uitruilstudent te gaan besoek.

Volgens die skool het Karoline in Februarie by FSA Youth Exchange daarvoor aansoek gedoen.

Karoline moes sekere opdragte voltooi om gekeur te kon word. Haar eerste opdrag was om al haar skool- en buitemuurse aktiwiteite te lys. Die tweede opdrag was ‘n toets wat sy moes aflê – hoewel daar nie ‘n regte of verkeerde antwoord was nie. Die antwoorde van die vraestel het die FSA Youth Exchange gehelp om Karoline se geaardheid vas te stel om te verseker dat sy by die regte gesin geplaas word.

Vir haar laaste opdrag moes sy ‘n brief skryf waarin sy haar skool en omgewing beskryf het. Al die opdragte het gehelp om die perfekte Duitse gesin vir Karoline te kies.

In April het sy die goeie nuus per SMS ontvang dat sy gekeur is om as uitruilstudent Duitsland toe te gaan.

Haar vierweke-avontuur het op 26 Junie begin toe sy Duitsland toe gevlieg het. Die Duitse gesin by wie sy ingewoon het, het gereeld met haar ouers gekommunikeer en hulle op hoogte van alles gehou aangesien Karoline nie haar eie selfoon in Duitsland kon gebruik nie.

Die lang dae, veilige openbare vervoer en Oreo-koffie is slegs ‘n paar van die dinge wat sy gaan mis.

Volgens Karoline was die son reeds om 5vm op en het eers om 10nm gesak. Dit was tot haar voordeel omdat sy meer tyd tot haar beskikking gehad het om die Duitse kultuur te ervaar. Sy het gesê sy sal enige tyd weer Duitsland wil besoek.

Hoërskool Riebeeckrand is saam met Karoline opgewonde oor die ervaring wat sy opgedoen het en sal enige tyd weer een van hul leerlinge ondersteun wat ‘n uitruilstudent wil word.

Exit mobile version