Local newsNewsUpdate

‘Ek het alles probeer om sy lewe te red’

Man praat oor hoe hy en ander op die toneel alles in hul vermoë gedoen het om die motorfietsryer se lewe te red.

“Ek het alles probeer om sy lewe te red,” was Naas Wepenaar van Code Red First Aid Services se woorde toe hy eerste op ‘n ongelukstoneel in Lazaarlaan afgekom het waar ‘n motorfietsryer kritieke beserings opgedoen het.

Ten spyte daarvan dat Wepenaar en ander op die toneel alles in hul vermoë gedoen het om die motorfietsryer se lewe te red, is hy ‘n dag later glo aan sy beserings in die hospitaal oorlede.

Die motorfietsryer se naam is nie aan die Herald bekend nie.

Volgens Wepenaar was hy en sy vrou daardie Saterdagoggend op pad dorp toe toe hy ‘n motorfiets in die teenoorgestelde rigting verby hom sien ry het. Die volgende oomblik het hy ‘n slag gehoor en in sy truspieëltjie baie stof gewaar. Hy het dadelik besef daar was groot fout, sy noodligte aangeskakel, omgedraai en na die toneel gejaag.

Toe Wepenaar by die toneel aankom was dit duidelik die motorfietsryer het agter in ‘n taxi vasgery. Die taxi het na bewering ‘n U-draai gemaak en reg voor die motorfiets ingery.

Wepenaar het vinnig uitgeklim en die man begin ondersoek. Hy het eers gedink die man het gesterf maar het toe ‘n ligte pols gevoel. Toe hy opkyk was daar talle mense om hulle wat hulp aangebied het.

Toe Wepenaar gevra het of daar iemand was wat noodhulp ken, het iemand dadelik na vore gekom. Hy het die slagoffer se nek gestabiliseer maar toe het Wepenaar gesien hoe die slagoffer se gesig begin blou word het. Hy het toe dadelik die band van die valhelm met sy reddingskêr afgesny. Die slagoffer se kleur het toe begin normaliseer en Wepenaar en ‘n inwoner het sy lugweg oopgehou.

Binne ongeveer agt tot 10 minute was Netcare 911- en ER24-nooddienste op die toneel en het by hulle oorgeneem. Die man is ondersoek en dadelik Leratong Hospitaal toe geneem.

Wepenaar het vertel hoe hy hom oor die man se toestand bekommer het en Maandagaand (27 Julie) gehoor het van die man se tragiese dood.

My passie is om lewens te red. Wat daardie dag gebeur het het my laat besef dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen.”

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Accident leaves biker critical

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button