Local newsNewsUpdate

“Ek is lief vir my man en kind.”

Baie vrae, min antwoorde oor swanger vrou se dood in Dr Yusuf Dadoo Hospitaal.

Op 16 Julie omstreeks 3.45nm het die hoogs swanger Alicia Le Grange haar laaste asem in Dr Yusuf Dadoo Hospitaal in Krugersdorp uitgeblaas.

‘n Emosionele Deon Le Grange het vir die Herald vertel van die gebeure wat sy vrou en ongebore baba se dood voorafgegaan het. Hy het gesê,

“Op 15 Julie omstreeks 11.45nm het ek wakker geword en Alicia op die slaapkamervloer sien lê. Sy het gesê sy voel sleg, en het baie gehoes. Ek het vir haar Vicks aan haar bors gesmeer, en daarna is ons weer terug bed toe.

Om 5.00vm die volgende oggend het ek haar in die badkamer aangetref met die Vicks in haar hand en haar teruggeneem kamer toe. Daar het sy gesê sy begin beter voel maar was nog baie naar. Ek het gaan werk, maar 10.00vm het ek ‘n oproep van my ma ontvang. Sy het verduidelik Alicia voel baie sleg en hulle moet haar hospitaal toe neem.”

Hy het verder vertel, “Die Randfontein EMS-staatsambulans het ons kom haal, maar hulle het gesê hulle moes eers Venterspos toe gaan vir ‘n ander noodgeval. Alicia se hande het toe al begin blou word. Toe ons in Venterspos kom, was die ander persoon reeds weg kliniek toe. Die ambulanspersoneel het toe na Alicia gekyk en vir my gesê haar hande was te blou en hulle sou haar gou by die hospitaal moes kry.

Toe ons by die hospitaal aanland, is ons dadelik Ongevalle toe waar hulle gesê het hulle fokus op Alicia en nie op ons ongebore baba nie – ek het nie geweet hoekom nie.

“Die hospitaalwoordvoerder het eers dié week gesê ons baba was toe al dood. Sy sou op 8 Augustus gebore word en ons wou haar Amore noem. Hulle het toe vir Alicia gestabiliseer maar het verduidelik dat sy water op haar longe het, en dat sy Leratong Hospitaal toe moes gaan want Dr Yusuf Dadoo Hospitaal het nie ‘n intensiewesorg-eenheid nie.

“Ons het daarna vyf ure gewag vir ‘n ambulans om ons Leratong toe te neem. Toe die ambulans uiteindelik kom, was daar geen suurstof in die ambulans nie.

Alicia het self op die draagbare bed van die ambulans geklim, maar op pad na die ambulans het haar gesig twee keer skeef getrek en daarna is sy oorlede.”

Nadat Alicia gesterf het, het die laaste dokter wat haar behandel het vir Le Grange gevra hoekom hy huil. Marizka Coetzer van die Krugersdorp News wat Woensdag 22 Julie saam met Le Grange na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal toe is om met hul woordvoerder te praat, het berig dat Le Grange die dokter as “ongeskik” en ‘n “vark” beskryf het weens die ongevoelige houding jeens hulle.

Die spesifieke dokter het ook versuim om die nodige dokumente af te teken sodat haar oorskot na die lykshuis geneem kon word, wat uiteindelik eers sewe dae later gedoen is.

By sy mamma se dagboek – Deon Le Grange en hul seuntjie Brandon wat niksvermoedend glimlag.
By sy mamma se dagboek – Deon Le Grange en hul seuntjie Brandon wat niksvermoedend glimlag.

 

Volgens Le Grange was die dokter glo “bang” om haar verslag af te teken.

Daar is na bewering Woensdag ook by die hospitaal vir hom gesê dit is te laat om ‘n lykskouing te doen om die presiese oorsaak van sy vrou se dood te bepaal, en dit sou hom boonop glo R4 000 kos. Die News het egter met ‘n deskundige by Roodepoort Patologiedienste gepraat wat gesê het laasgenoemde twee bewerings deur die hospitaal is onwaar.

Le Grange voel sterk daaroor dat die uitkoms vir sy vrou baie anders sou gewees het as die ambulans nie eers Venterspos toe is nie. Hy wil die saak nie daar laat nie en sal alles moontlik doen om meer inligting te kry oor wie verantwoording moet doen vir die besluite wat die ambulanspersoneel geneem het.

Le Grange en sy vrou is al sewe jaar saam en drie jaar getroud. Hulle het ook ‘n tweejarige seuntjie, Brandon. In ‘n hartseer oomblik het Le Grange sy vrou se dagboek gaan haal en vir die Herald die inskrywings gewys wat sy vrou die dag voor haar dood, en ook in die voorafgaande dae gemaak het.

Daar staan herhaaldelik en duidelik: “Ek is lief vir my man en kind.” Voor Alicia se dood het sy ook vir haar man gesê hy moet mooi na hul seun kyk en dat sy hulle baie liefhet. Le Grange het bedroef vertel hy lewe nou net vir hul seuntjie en om sy vrou se laaste wense te eer.

Le Grange het gesê, “Ons het nooit baklei nie, ons het ‘n mooi pad saam gestap. Ons was nooit sonder mekaar nie. Dit voel of sy net met vakansie is. Ek kan nie in die aand slaap nie, ek sien haar gesig voor my …”

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Mother, unborn baby die in state hospital

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button