Rierand skrik nie vir naalde nie

Om lewens te red is ook nie iets nuut vir hulle nie, dit gebeur glo vier keer 'n jaar.

Leerlinge en selfs personeel van Hoërskool Riebeeckrand het van hul vrees vir ‘n naald vergeet deur op Woensdag 22 Julie bloed te skenk.

Die Nasionale Bloeddiens (SANBS) besoek die skool vier keer ‘n jaar en is al sedert 2001 betrokke by die skool.

Elzeri Wright, woordvoerder van Rierand het verduidelik, “Al die seuns en dogters wil bloed skenk. Hulle wil ‘n bydrae lewer om te verseker dat hulle ook ‘n lewe kan red.”

Leerlinge wat bloed geskenk het, het elkeen ‘n kombers van SANBS ontvang.

Onnie Anmarie Boshoff het gesê, “Ek skenk bloed omdat daar ‘n groot behoefte daaraan is wat mense se lewens kan verander en red”.

Om bloed te kan skenk moet leerlinge ouer as 16 jaar wees en nie minder as 50kg weeg nie.

Volgens Martha Seakgoe, kliniektoesighouer van die SANBS se Krugersdorp-tak is alle tipes bloed welkom en ‘n persoon kan tot ses keer ‘n jaar bloed skenk.

Sy het ook die proses van bloedtrek verduidelik.

Drie buisies bloed word van elke leerling getrek en dit is van kardinale belang dat skenkers ‘n vorm invul om te verseker dat hulle nie ‘n hoë risiko van enige virus het nie. Die buisies bloed word dan na die hoofkantoor in Constantia, Roodepoort geneem waar verskeie toetse daarop uitgevoer word om te verseker dat die bloed veilig is. Alle bloedgroepe word benodig. Groep A is wel die mees gesogte bloedgroep.”

Johan Tiedt, ‘n onderwyser en organiseerder van die skenkgeleentheid by die skool het gesê, “Rierand skenk gemiddeld 85 eenhede bloed aan die SANBS, wat ‘n baie hoë syfer is.”

Amri van Aswegen, ‘n Graad 11-leerlinge het verduidelik hoekom sy bloed skenk.

Daar is baie voordele, dit verminder die kanse van ‘n hartaanval, dit hou jou bloed skoon en dit is ook baie gesond as jou liggaam nuwe rooibloedselle vervaardig.”

Nog ‘n leerling, Carlo van der Merwe, het laggend vir die Herald gesê, “Ek doen dit om my vrees vir naalde te oorkom.”

Die redes waarom mense bloed skenk mag verskil, maar uiteindelik gee die skool hul deel aan die samelewing deur vier keer ‘n jaar ‘n goeie daad te doen.

Besoek die galery vir nog foto’s.

Exit mobile version