Paartjie kort na beurtkrag aangeval

Man vasgebind en aangeval, vrou kruip weg – 'Dit was asof die Here die rower blind gemaak het.'

‘n Getroude paartjie was Donderdag 16 Julie glo kort na beurtkrag die ongelukkige teikens van ‘n gewapende roof in hul huis in Helikon Park.

Nick Hitge het vertel hoe hy fisies ‘n slagoffer was terwyl die rowers sy vrou Corrie gelukkig nie raakgesien het nie omdat sy weggekruip het.

Die paartjie het aan die Herald verduidelik hulle het omstreeks 10nm net na beurtkrag gereed gemaak om te gaan slaap.

Hulle het daarna hul Jack Russel aanhoudend hoor blaf. Corrie het na die badkamer toe gestap om die hond deur die venster stil te maak. Daarna het sy ‘n groot slag gehoor soos ‘n venster gebreek het. Nick was reeds in die bed toe hy skielik vier gewapende rowers deur hulle slaapkamervenster sien spring. Hy sê hulle het die venster met ‘n mangatdeksel stukkend geslaan.

Corrie het dadelik gehardloop om die noodknoppie van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy te druk maar het gesukkel om dit in die hande te kry. Die vier rowers het toe glo vir Nick met sy lyfband en die koord van Corrie se haardroër vasgebind.

Corrie en Nick Hitge by die venster waar die gewapende rowers glo deurgespring het.

Hy vertel hoe hulle ‘n geweer teen sy kop gedruk het en hom beveel het om die kluis- en motorsleutels vir hulle te gee. Nick het aan hulle verduidelik hy het nie ‘n kluis nie. Hy is toe glo agter die kop met die geweer geslaan en in die ribbekas geskop.

Hy het vir hulle gesê die sleutels vir die motors was in die kombuis en hulle is toe saam met hom soontoe om dit te kry. Terwyl hulle die huis verder deursoek het, het Corrie agter gordyne in die spaarkamer weggekruip.

Die een rower het in die kamer ingestap en kaste oopgeruk. Ek het die volgende oomblik werklik gedink hy sien my skoene onder die gordyne uitsteek. Hy het nader aan die gordyn gestap maar hy het net nog ‘n hangkasdeur oopgemaak. Dit was asof die Here hom blind gemaak het,” het sy vertel.

Die rowers is glo daar weg met hul motors se sleutels, drie selfone, juwele en Nick se horlosie. Hulle was ook op soek na vuurwapens maar Nick hou nie vuurwapens in sy huis aan nie. Toe die rowers die Hitges se bakkie probeer oopsluit, het die alarm afgegaan. Al vier is glo in die Hitges se VW Polo daar weg. Corrie het dadelik ‘n sekuriteitsmaatskappy in kennis gestel en hulle was baie vinnig op die toneel. Die sekuriteitsbeamptes het toe agter die Polo aangejaag en ‘n skietery het glo tussen die rowers en sekuriteitsbeamptes uitgebreek.

Die Hitges is later in kennis gestel dat hul Polo in Protea Glen gevind is, maar dat die motor koeëlgate in het. Op die oomblik is hulle nog onseker wat van die rowers geword het.

Die Hitges bedank hul sekuriteitsmaatskappy, EPR, vir hul vinnige diens en ondersteuning.

Die Randfontein Polisie-woordvoerder moet nog die voorval bevestig.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Son murdered, father attacked

Family attacked in home

Elderly man attacked by gunmen

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Exit mobile version