Local newsLocal sportNewsSport

Kwagga brul soos ‘n leeu

Voormalige leerling van Laerskool Randfontein lei sy span tot glorie tydens Akademieweek.

Kwagga van Niekerk, ‘n inwoner van Greenhills en voormalige leerling van Laerskool Randfontein (Ram) se rugbytoekoms lyk belowend.

Dié yster-agsteman het die Goue Leeus se o.16 Akademiespan tydens die Akademieweek die afgelope skoolvakansie in Vereeniging as kaptein aangevoer.

Daar het Kwagga sy span tot glorie gelei en hul aartsvyand van anderkant die Jukskei – die Blou Bulle – in die eindstryd met 15-13 geklop. ‘n Totaal van 16 spanne het deelgeneem. Kwagga en sy Leeus het ook gedurende die reeks die Griffons met 69-0 verniel en die Pumas 39-17 verslaan.

So moet 'n agsteman mos duik. Kwagga van Niekerk in aksie vir die Goue Leeus se o.16 Akademie-span gedurende Akademie-week.
So moet ‘n agsteman mos duik. Kwagga van Niekerk in aksie vir die Goue Leeus se o.16 Akademie-span gedurende Akademie-week.

Na afloop van die Akademieweek is Kwagga in die Noordvaal-groep van 24 ingesluit wat in Oktober in Ierland gaan toer. Daar sal hulle drie wedstryde teen o.17- en o.18-spanne speel – al is hul net o.16-spelers.

Kwagga is ‘n lid van Hoërskool Monument (Monnas) se o.16A-rugbyspan wat ook die huidige Tuks Superreeks-, Beeld- en Beeld 7’s-kampioene is.

Die toer Ierland toe word glo deur die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (Saru) geakkrediteer. Daar is ‘n koste verbonde vir al die seuns wat die toer wil meemaak. Enige iemand is wat kan/wil help met ‘n borgskap of donasie kan vir Kwagga kontak by 082 321 9952.

As voormalige Ram-leerling was Kwagga kaptein van die A-spanne in al die ouderdomsgroepe. Hy het ook die Goue Leeus gedurende die Cravenweek in die ouderdomsgroep van o.12 en o.13 verteenwoordig. As Randfontein-jeugrugbyspeler was hy ook kaptein van die spanne van o.9 tot o.13. Toe hy o.11 tot o.13 gespeel het, het die onderskeie spanne glo nooit ‘n wedstryd verloor nie.

Kwagga hoop om na skool vir die Haaie (Curriebeker) en Sharks (Super Rugby) uit te draf maar fokus vir eers op die Beeld-kwarteindstryd wat voorlê nadat die skole heropen het.

Related Articles

Back to top button