Local newsNews

R’fontein se baby tjoklits

Hy's so groot soos 'n bul maar so sag soos sjokolade.

Tjoklit, ‘n unieke bul van Maya’s Animal and Play Park in Hillside het glo twee jaar gelede drie dae lank langs die pad gelê totdat ‘n inwoner van Ranfontein sy lewe gered het.

In Desember 2013 het ‘n man glo op pad na ‘n kort vakansie verby ‘n kalfie gery wat hulpeloos langs die pad gelê het. Toe hy drie dae later weer daar verby ry, het hy die einste kalfie op presies dieselfde plek gewaar, nog in ‘n redelik goeie kondisie.

Van Wyk kon dit nie weerstaan om Tjoklit onder sy vlerk te neem nie. Hy het hom dadelik huis toe geneem en hom drie maande lank beesmelk met ‘n bottel gevoer. Daarna het Tjoklit begin vreet soos hy moes en het sterk en gesond gebly. Toe hy te groot geword het vir Van Wyk se eiendom, het hy Tjoklit vir May Aucamp, eienaar van Maya’s Animal and Play Park in Hillside geskenk.

May se plot is perfek vir Tjoklit. Daar is baie plek om te wei en hy het genoeg geselskap van ‘n paar ponies en ander diere. Tjoklit se uitsonderlikste kenmerk is dat hy aangehardloop kom as jy sy naam roep. Sy gunsteling kos is piesangs en dit verslind hy met skil en al.

Tjoklit weeg byna ‘n ton – 800kg om presies te wees – en is twee meter lank, maar as jy ‘n verwoede bul verwag sal jy verbaas wees as jy Tjoklit ontmoet.

Hy is ‘n saggeaarde dier en is versot op baie liefde en aandag. Selfs die een ponie, Frisco, sit behoorlik op sy kop, en as Frisco minder aandag as Tjoklit kry, probeer Frisco vir Tjoklit skop.

May is baie dankbaar dat Tjoklit by haar beland het en is beslis goed bekend onder die kinders wat Maya’s Animal and Play Park besoek.

Related Articles

Back to top button