Teine se groot vyf

Vyf rugbyspelers van Randfontein Rugbyklub haal Goue Leeus Amateur-oefengroep.

Die toekoms vir vyf spelers van Randfontein Rugbyklub lyk blink nadat hulle in die Goue Leeus se Amateur-oefengroep ingesluit is.

Rudy Marx (kaptein van Teine se eersterugbyspan en skrumskakel), Errard Ernsting (Ertjies soos almal hom ken en vleuel), Herman van Eck (flank), LJ van Heerden (stut) en Koos van Zyl (slot) is die manne wat naam gemaak het.

Volgens die klub oefen die Groot Vyf soos hul nou bekendstaan reeds kliphard sedert die begin van Julie af vir die Provinsiale Toernooi vir Amateurs wat van 11 tot 15 September in Witrivier plaasvind.

Willie Marx, die eerstespanbreier het verduidelik die finale Goue Leeus Amateurspan sal dan gekies word maar die klub is vol vertroue dat al vyf dit gaan maak.

Verlede jaar het vier spelers van Randfontein Rugbyklub die span gehaal.

Spanne wat aan die provinsiale toernooi in Witriver gaan deelneem is die Blou Bulle, Limpopo Bulle, Pumas, Valke, Luiperds, Laeveld Pumas en natuurlik die Goue Leeus.

Rudy, ‘n trotse Teine-speler speel al rugby vandat hy vyf jaar oud is. Hy het onder andere die volgende prestasies behaal:

Hy het vir die Luiperds gespeel in die Vodacom-beker, vir die Pumas in die Curriebeker en Limpopo Bulle, en was lid van die Goue Leeus se sewespan tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.

Rudy sê, “Ek het al baie bereik in my loopbaan, maar ek sal aanhou rugby speel tot ek nie meer kan nie.”

Van nou af tot die toernooi in September gaan dié vyf Leeus net rugby eet, slaap en drink.

Exit mobile version