Gestremdes die deur gewys

Agterstallige rekeninge een van die redes – eienaars.

Die toekoms van minstens vyf mense met fisiese en verstandelike gestremdhede lyk onseker nadat hulle die deur gewys is.

Amelia van Wyk het na hulle omgesien in ‘n huis wat sy gehuur het. Op 26 Junie is die groep mense asook Amelia gevra om ‘n ander heenkome te vind. Een van die redes daarvoor is agterstallige rekeninge.

Die vyf inwoners ly glo aan verskeie toestande soos diabetes, hartversaking, bipolêre gemoedsversteuring, Huntington en Parkinson se siekte, gissindroom en sielkundige afwykings. Een inwoner is verstandelik gestrem.

Amelia het aan die Herald verduidelik dat sy al drie jaar die spesifieke huis by die eienaars huur en erken dat daar tye was dat sy nie die huurgeld kon betaal nie. Sy het glo wel haar situasie aan die eienaars verduidelik en vertel dat haar pensioenfonds een van die dae sou uitbetaal.

Volgens Amelia het sy selfs uit haar werk bedank om na die mense om te sien.

Die eienaars van die huis is pensioentrekkers en het op 28 April die situasie in ‘n brief aan die Herald verduidelik, asook bewyse voorgelê van uitstaande munisipale rekeninge.

Volgens die eienaars moet hulle nou self daar gaan woon en kan nie meer die agterstallige rekeninge bekostig nie. Hulle moes ‘n prokureur kry om hulle te verteenwoordig, wat ook geld kos.

Hulle het verder verduidelik dat hulle nie kan verstaan hoe Amelia haar vaste inkomste kon prysgee terwyl sy geweet het nie een van die ander inwoners het ‘n vaste inkomste nie.

Toe die Herald die huis om 9.30vm op 26 Junie besoek het, was die polisie glo reeds daar. Hulle het na bewering verduidelik dat die inwoners nie die eiendom hoef te ontruim nie tensy daar ‘n uitsettingsbevel is. Kaptein Appel Ernst, woordvoerder van die Randfontein Polisie sê dit is n siviele saak, maar die polisie word wel uitgeroep vir beveiliging.

Amelia het ook vertel dat hulle 20 dae tyd het om die uitsettingsbevel teen te staan en dat hulle nie in kennis gestel is van die skielike besluit dat hulle die huis moes ontruim nie. Volgens haar is sy aangesê om nie die huurkontrak te hernu nie maar die eienaar dagvaar haar nou vir kontrakbreuk.

Die Herald het die eienaars van die eiendom asook hul prokureur vir kommentaar probeer kontak maar teen druktyd was dit nog sonder sukses.

Amelia het die oggend verduidelik dat hulle tydelik by ‘n paartjie op ‘n plaas gaan woon totdat hulle ‘n ander heenkome vind. Vir die vyf persone met gestremdhede lyk die toekoms nie rooskleurig nie.

Exit mobile version