Local newsNews

Tannie Lizzie word 99!

Die Florence Nightingale van die oord.

Nog net een jaar. Dan het Tannie Lizzie, bekend as Maria Elizabeth le Roux van die Renaissance Aftreeoord die mylpaal van 100 bereik.

Op Vrydag 3 Julie vier sy haar 99ste verjaardag. Op die sonnige wintersoggend van 2 Julie het die Herald saam met vriende, familie en inwoners van die oord bymekaar gekom om haar spesiale dag te vier.

Daar was om en by 60 mense, onder andere haar dogter Isabel Smal en haar lewenslange vriendin Dina van Niekerk. Ds Hennie le Roux van die NG Gemeente in Randpoort het die geselligheid met ‘n gebed begin.

Heerlike sop en broodjies is voorgesit en Tannie Lizzie het lekker saam met almal gekuier.

Tannie Lizzie is op 3 Julie 1916 op ‘n plaas in Elandsfontein gebore en het vyf kinders, 12 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.

Isabel Smal en haar ma, Tannie Lizzie le Roux, wat 99 jaar oud word.
Isabel Smal en haar ma, Tannie Lizzie le Roux, wat 99 jaar oud word.

 

Sy is nog baie aktief en haar enigste gesondheidsprobleem is sig. Sy woon al 24 en ‘n half jaar in die Renaissance Aftreeoord en sy staan bekend as die oord se voorbidder.

Kotie de Beer is haar buurvrou en sy het vertel, “Tannie Lizzie is goud werd vir die oord.”

Dina en Tannie Lizzie is al vriendinne van 1968 af, en sy het gesê, “Tannie Lizzie se lojaliteit en deursettingsvermoë is twee van haar sterkste karaktertrekke. Haar geloof in die Here en in gebed is vir my haar mees besondere eienskap. Tannie Lizzie sal nooit ‘n lelike woord oor enige iemand sê nie, en sy soek altyd die beste in elke persoon.”

Dit kom voor of Tannie Lizzie boonop die oord se Florence Nightingale is. Ook in haar jonger dae het sy mense enige uur van die dag of nag bygestaan. Haar dogter Isabel by wie sy woon het gesê dit is ‘n groot voorreg dat hulle moeder nog leef, en sy is baie dankbaar dat sy nog elke dag haar ma by haar het en kan versorg.

Tannie Lizzie se raad vir ‘n lang, gelukkige lewe is, ” Kyk na jouself, sorg dat jou lewe reg is en gaan met alles na die Here toe.

“Eet gesond en wees vriendelik teenoor elke persoon wat oor jou pad kom, dan sal jy nooit ‘n eensame dag hê nie.”

Related Articles

Back to top button