Verklaring by polisie ontaard in ‘n nagmerrie

Skryf liewer jou eie verklaring by die polisie neer, anders land iemand dalk verkeerdelik in die tronk.

‘n Verklaring wat Ben James, ‘n skagtimmerman en mynwerker, by die Westonaria Polisiestasie afgelê het, het glo lelik skeefgeloop.

Nie net is sy kollega gearresteer nie, maar sy verklaring by die polisie wat hy nie self geskryf het nie, is heeltemal verkeerd vertolk. Hy moes ook duisende rande opdok vir ‘n prokureur.

James het sy storie vir die Herald vertel.

Hy en ‘n kollega het glo woorde gehad nadat hy op Woensdag 13 Mei ‘n ondergrondse ondersoek by die myn waar hul werk, gedoen het.

Volgens hom het die getwis in ‘n geskreeu ontaard. Die kollega het hom na bewering gedreig dat hy sy vriende sou kry om met wapens na sy huis toe te gaan.

James was baie bekommerd oor sy familie en het besluit om die saak by die polisie aan te meld.

By die polisiestasie het ‘n polisielid sy verklaring afgeneem. Die lid het gesê hy verkies om self die verklaring uit te skryf en dan kon James dit net teken. James het gesê hy het geweier maar toe wel besluit om die verklaring te teken nadat die polisielid glo daarop aangedring het.

Volgens James het die polisielid hom die versekering gegee dat alles in die verklaring presies neergeskryf is soos James die voorval by die myn beskryf het.

Die Maandag daarna het James en sy kollega glo alles uitgepraat en James het besluit om die saak terug te trek. James is daardie aand terug polisiestasie toe waar hy verneem het die polisie soek na sy kollega. Hy het aan hulle verduidelik dat hy eerder die saak wou terugtrek, maar die polisielid het glo vir hom gesê, “Dit is te laat.”

Sy kollega het ‘n ruk later daar aangekom en is glo in hegtenis geneem. Die betrokke ondersoekbeampte het vir James gesê die rede waarom die saak nie teruggetrek kon word nie, is dat die kollega se vriend gewapen by James se huis opgedaag het en hom met ‘n geweer gedreig het.

James het toe besef sy verklaring is verkeerd neergeskryf.

Die kollega is toe na die Bekkersdal Polisiestasie geneem waar hy oornag aangehou is.

James is na die hof in Westonaria toe waar hy ingelig is dat die saak eers teruggetrek kan word as dit aan die spesifieke landdros oorhandig word.

James was verplig om ‘n prokureur te kry want sy kollega kon hom eerstens laat aankla op grond van ‘n vals verklaring en tweedens dat hy onregmatig gearresteer is. Nadat James ongeveer R3 500 moes opdok, het die hof die saak laat vaar en sy kollega is vrygelaat.

James het gesê sy vertroue in die polisie is geskend en hy sou sy werk kon verloor het as hy nie ‘n prokureur kon bekostig nie. Hy waarsku die gemeenskap om bedag te wees wanneer hulle ‘n verklaring van enige aard aflê.

Die Herald wag nog op kommentaar van kaptein Ndlovu, Westonaria se polisiewoordvoerder.

Exit mobile version