Gemeenskap groet geliefde Bühner

Roudiens vir een van die Brandvlei-motorongelukslagoffers in Krugersdorp gehou.

Dit was ‘n diens om sy lewe op aarde as vriend, skoolhoof, kollega en pa te vier.

Só het Nadia, die oudste dogter van Günther Bühner, voormalige skoolhoof van Hoërskool Riebeeckrand en ten tye van sy dood hoof van Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs tydens sy roudiens in ‘n stampvol NG Suiderlig-kerk in Krugersdorp-Wes Dinsdag gesê.

Leerlinge, vriende, kollegas en familie het gesukkel om die trane terug te hou.

Bühner, sy vriendin Jackie Alberts en haar vyf-jarige dogtertjie Alandri is verlede Sondagaand deel van ses mense wat tydens ‘n motorongeluk op die N14-hoofweg in Brandvlei, Randfontein glo opslag dood is.

Vier mense, waaronder Bühner se 16-jarige dogter Jané en Alberts se 7-jarige seuntjie Luan is, is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal.

“Dit voel soos gister toe die rolle omgeruil was en ek daar agter in die kerk gesit het en my pa hier voor gestaan het om ‘n huldeblyk aan my ouma te lewer. Soos altyd het hy die mooiste woorde gesê en met soveel trots en waardigheid gepraat; ek dink dit is hoe ons hom altyd sal onthou en vandag is dit my beurt,” het ‘n emosionele Nadia aan rouklaers gesê.

‘n Laaste afskeidsgebaar. ‘n Selfportret van wyle Günther Bühner met blommerangskikkings en kerse is voor op die NG Suiderlig-kerk se verhoog geplaas.

“Ons het hom almal op verskillende maniere geken. Van julle het sy hoofkant geken, streng en sonder nonsens. Ander het die voorreg gehad om sy vriendskap kant te ken, altyd lojaal en opreg.

“Ek het die voorreg gehad om sy pappa-kant te ken en soos enigiets in die lewe was alles nie altyd maanskyn en rose nie, maar hy was ‘n ongelooflike pa en ek het so baie by hom geleer.”

Adolf Ellis, skoolhoof van Hoërskool Bekker het tydens sy huldeblyk gesê hy gaan sy vriend en vertroueling baie mis, “maar ek weet jy is veilig aan Jesus se sy.”

Hy het gesê niemand wat hom ontmoet het, kon dan wegstap en sê hulle is nie deur hom geraak nie.

“Hy was essentriek, hardkoppig, uiters slim en snaaks en het ‘n passie vir die onderwys gehad soos niemand anders nie – hy het geweet wanneer om te raas, maar die dag wanneer hy jou troos om ‘n kompliment te gee het jy geweet hy bedoel dit.”

Die begrafnisbrief wys ‘n lewenslustige man. Die diens is deur Ds Gerhard Slabbert waargeneem.

‘n Roudiens word vandag (24 Junie) vir Jackie en haar dogtertjie, Alandri Alberts in Randfontein gehou.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Former Rierand principal killed in car crash

UPDATE: Another loved one identified

UPDATE: Loved one’s words days before crash

UPDATE: Boy,7, critical in hospital

UPDATE: Funeral arrangements made

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version