Fred en Martie se sopkombuis maak ‘n verskil

Dogter hou belofte aan sterwende ma.

Yolindie en Riaan Oberholzer van Fred en Martie se Sopkombuis het onlangs na die minderbevoorregte mense in die area uitgereik en onder andere komberse oorhandig.

Die sopkombuis is oorspronklik deur Yolindie se ma (Martie) en pa (Fred) op die sypaadjie voor hul tuiste in Claremont – hooftak – in 1981 begin.

Toe Yolindie se ma op sterfte lê, het haar ma vir haar gesê, “Moet asseblief nie dat my kinders honger ly nie”.

Yolindie het tot vandag toe die belofte nagekom.

Drie weke terug het die Oberholzer’s ‘n sopkombuis in Hectorton oopgemaak waar Randfonteiners Rene en Floris Botes die woonstel vir hulle gratis verskaf het.

Die Botes-familie bestuur die sopkombuis en maak die kos waar hul dogter, Angelique kelnerin speel. Elke dag bedien hulle om 11vm kos aan bejaardes en 1nm aan kinders.

Yolindie werk ook nog voltyds en Riaan hou elke dag die fort en sien dat alles seepglad verloop.

Volgens Yolindie, “Besoek minderbevoorregte mense van alle ouderdomme en rasse van omliggende gebiede daagliks die sopkombuis. Kinders van so jonk as vier jaar oud kom selfs elke dag daar aan en die ouer mense ontferm hulle oor die klein kindertjies. Die Sopkombuis verskaf daagliks kos aan minstens 80 inwoners waar hulle finansieel geen fondse ontvang nie.”

Orefele Getsolofetso, 7 geniet elke dag middagete by Fred en Martie se Sopkombuis.

Die Oberholzer’s bied by hul sopkombuis in Claremont ‘n slimprojek aan om kinders besigheidsvaardighede aan te leer deur van ‘n puntestelsel gebruik te maak. Hierdie kinders maak bottels, blikkies en plastiekbottels bymekaar en so kry hulle dan punte waardeur hulle by die Oberholzer’s se winkeltjie benodighede kan aankoop. Die bottels word dan vir ‘n werker gegee, waar hy dit herwin, wins maak, maar dan met die res van die fondse koop hy dan met die Oberholzers se deel benodighede vir die winkel.

Die Sopkombuis in Claremont verskaf ook groente aan Hectorton se kombuis, deur die groentetuin wat hulle bewerk het. Op hierdie spesifieke dag (19 Junie) het hulle komberse en mussies aan die kinders verskaf.

Hulle ontvang hulle donasies deur privaatskenkers, maatskappye en kerke. Die Sopkombuis het ook vir die laaste drie weke sonder krag en warm water moes klaarkom. Ten spyte van dit is alle honger magies gevoer en die Sopkombuis is netjies en skoon.

Voor op hulle gebou se muur is daar ‘n bordjie met ‘n gedeelte uit die bybel wat sê: It is more blessed to give than to receive … Die span maak hulle harte en beursies oop vir alle minder bevoorregtes.

“As ons almal net ‘n deeltjie aan die samelewing kan terug gee sal dit so ‘n groot verskil in ons gemeenskap maak,” het Yolindie gesê.

• Navrae: Skakel Riaan of Yolindie by 082 786 8517.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version