Rierand-onnie voltooi sy eerste Comrades

Onnie wil volgende jaar die Comrades onder nege uur klaar maak.

Tyrone Dempsey, ‘n onderwyser van Hoërskool Riebeeckrand het verlede naweek se uitdagende Comrades Maraton in KwaZulu-Natal met ‘n tyd van 11 ure, 50 minute en twee sekondes voltooi.

Volgens die skool se Elzeri Wright was dit Tyrone se eerste Comrades-wedloop en het hy reeds in Augustus verlede jaar vir die Ultimate Human Race begin oefen.

“Hy het stadig maar seker in die ding gekom deur 1km elke dag te hardloop. Hy het dié afstand gelydelik verleng. Tyrone se harde oefening en deursettingsvermoë het daartoe gelei dat hy in Januarie 2015, 20 tot 30 kilometer per dag gehardloop het.

“Tyrone het homself op 30 September 2014 ingeskryf vir die Comrades Maraton en geweet nou moet hy net vasbyt en deurdruk aangesien dit nog altyd ‘n droom van hom was om die Comrades te hardloop. Tyrone het meeste van die tyd op sy eie geoefen, maar het soms saam die Krugersdorp Road Runners geoefen waar hy ook lid is.”

Volgens Tyrone is die virseker nie sy laaste Comrades nie en wil hy volgende jaar weer deelneem. Die keer wil hy onder nege ure klaarmaak.

Exit mobile version