Local newsNews

Die boer, die gedig en harde werk

Bekende boer se wenresep ...

Kobus van Zyl, bekende boer in ons landboustreek boer al sedert 1997 met lewendehawe en mielies.

Sy twee seuns, Lenard en Jaco boer saam op sy 3,6 hektaar landbouhoewe in Rikasrus. Kobus het reeds vele trofeë verower met sy beeste, en elke jaar skenk hy sy grootste os aan die kerk. Die 800 ton mielies wat hy self produseer en 3 000 ton wat hy aankoop verwerk hy self.

Elke jaar wanneer die Moslem-gemeenskap die Qurbani-fees vier, verskaf hy spog bokke aan hulle. Hy verwerk sy eie heilsame voer, waarvan al sy diere, veral ook die Romagnola- en Brahman-bulle se kondisie getuig.

Sy krale is ook opgegradeer met ysterpale wat veilig en prakties is vir die diere. Maar wat is die uitdagings vir hierdie boer?

Soos vir alle Suid-Afrikaners, hetsy in die stad of op die platteland, is beurtkrag ‘n groot kopseer. Kobus stoor sy oeste by die Middelvlei-silo’s maar wanneer die krag af is, kom alles tot stilstand.

Dis 'n spanpoging. Jaco saam met sy pa Kobus.
Dis ‘n spanpoging. Jaco saam met sy pa Kobus.

Verder het elkeen van sy beeste 70 liter water ‘n dag nodig om hulle dors te les, en met 200 beeste beteken dit 14 000 liter water ‘n dag. Wanneer die krag af is kan hy nie vir die diere water pomp nie.

Misdaad is nog ‘n uitdaging vir elke boer in die land. Kobus se oplossing is tweerigtingradio’s. Hy en sy seuns sowel as ander boere in die streek is konstant in kontak met mekaar.

Met 200 beeste, 200 skape, 200 bokke en ‘n mielie-oes moet hy ook bontstaan om peste te bekamp. As dit by mielies kom is rotte en tarentale die groot sondebokke en hy volg maar die gewone roete van gif en skiet, hoewel Kobus glo in leef en laat leef.

Bloutong is ‘n siekte wat omtrent elke bees dra maar hy het hiervoor ook ‘n innoverende oplossing gevind. Toe die Universiteit van Pretoria Kobus se beeste ‘n ruk gelede kom toets het, was hulle nie net vry van die siekte nie maar 17 van hulle het selfs heeltemal negatief getoets. Sy geheim? Bisa-wespe.

Hy koop 5 000 klein perdebye wat hulle eiers in die vlieë se larwes lê en sodoende voorkom dat die vlieë siektes versprei. Verder gebruik hy ook diatomiet in sy voer wat ‘n natuurlike parasietbestryder is. Maar wat dink Kobus maak ‘n boer?

Hy glo vas jy moet grootword as ‘n boer en dat dit in jou bloed is. Hy bewys dit aan die hand van die voorbeeld wanneer die regering plase weggee.

“Dit is telkens ‘n mislukking,” het Kobus gesê.

Wanneer hy en sy seuns haaks raak haal hy graag uit die gedig Jy sê jy wil boer my seun aan waarvan die eerste strofe lui: “Jy sê jy wil boer, my seun. Dan moet jy die insig hê van ‘n profeet om van probleme wat gaan kom te weet, voorgevoel soos ‘n reënwolk wat met sy kreet vertel van die reën voor jou FM dit weet …

“Die pa-en-seuns-spanpoging spreek van harde werk en ‘n passie vir boerdery. Kobus het ook ander projekte in die vooruitsig en hou by die wenresep van “Hier strike ons nie”.

'n Bok is moeilik om te vang!
‘n Bok is moeilik om te vang!

Related Articles

Back to top button