Groep vriende pak 2,4km vir liefdadigheid

'Dankie vir elkeen wat genoeg omgegee het om ‘n skenking te doen.'

Dit was letterlik ‘n geval van ‘kom ons staan op en doen iets vir liefdadigheid’ toe ‘n groep vriende in Randfontein onlangs ‘n 2,4km Charity Drive aangepak het.

Carina van Staden het namens die groep vriende gesê, “‘n Maand gelede het ‘n paar vriende sommer net besluit om ‘n maand lank te oefen vir ‘n 2,4km stap-/ hardloop-kompetisie. Op 17 Mei het dit ‘n werklikheid geword en 30 hardlopers het deelgeneem.”

Die groep het op die hoek van Tinus de Jonghstraat en Noordweg in Greenhills weggespring.

“Die reël was dat die wenners in die vroue- en mansafdelings elkeen die helfte van hul prysgeld moes skenk aan ‘n liefdadigheidsorganisasie. Elke deelnemer het R100 inskrywingsgeld betaal. Addisionele fondse is ook ingesamel deur die energiedrankies te verkoop wat Johan Smit (Red Bull) en Leana Huisman (Pit Bull) geskenk het. Dit het die prysgeld verhoog,” het Carina gesê.

Vrouewenner Chanelle Hall het ‘n deel van haar prysgeld aan die Rainbow Day Care Centre in Randfontein geskenk terwyl die mansafdelingwenner, Riaan Mong sy deel aan die Randfontein DBV oorhandig het.

Volgens Carina het Johan ook gesorg vir Red Bull-geskenkpakke vir die wenners onder die stappers.

Twee gelukstrekkings is ook gehou. Shaun du Preez en Nicky Rix was die gelukkige wenners van ‘n maand se gimnasium- en fiksheidskontrak geskenk deur Wouter de Koker.

Carina het almal bedank wat betrokke was.

“Dankie vir elkeen wat genoeg omgegee het om ‘n skenking te doen, op te daag, deel te neem en te wys dat inwoners van Randfontein ‘n verskil kan maak.”

Exit mobile version