Natuurwetenskap by Ram werk soos ‘n bom

'Pepsi en sewe Mint Imperials – glo vir my, dit werk soos 'n bom' — Leerling.

Laerskool Randfontein (Ram) se Graad 7-leerlinge is onlangs uitgedaag om die beste vulkaan in die vak Natuurwetenskap Chemie te bou.

Hannes Muller, onderwyser by Ram was die man agter die idee en uitdaging, met die vereiste dat die vulkaan moet kan ontplof, en rook en lawa moes daaruit kom.

“Die leerlinge het in groepe van tot vyf leerlinge saamgewerk en kreatiewe planne beraam om die vulkane te laat werk. Hulle het van kaliumpermanganaat, sure en basisse tot koeldrank en Mentos gebruik om die ontploffings te veroorsaak,” het Annie Nolan, woordvoerder van Ram gesê.

‘n Hele week is daaraan spandeer om te kyk wie se ontploffing die beste was.

Die wengroep met die beste vulkaan was Joshua le Grange en Brandon Badenhorst. Volgens Hannes, was dit die beste vulkaan wat hy nog ooit by Graad 7-leerlinge gesien het. Hy is baie trots op al die Graad 7’s wat deelgeneem het.

“Rookbomme, kaliumpermanganaatkristalle gemeng met gliserien; Mint Imperials en Pepsi; asyn en koeksoda – ons het alles probeer en getoets vir die beste ontploffing. Eksperimente van alle aard is gedoen. Pepsi en sewe Mint Imperials – glo vir my, dit werk soos ‘n bom,” het ‘n opgewonde Graad 7-leerling Tyllin Barnard oor die taak gesê.

‘n Groep Graad 7-leerlinge sit trots by hul taak.
Exit mobile version