Jannas pom-poms se geheim tot sukses

Skool deel hul wenresep met die Herald.

As dit pap reën, moet jy skep.

Hoërskool Jan Viljoen se pom-poms geniet al die glorie wat na hul kant toe kom.

Hulle kan maar breebors rondloop want die afgelope vier jaar is hulle as die kampioen van die Randfontein Skou gekroon en intussen as afdelingswenners van Raca en NEA-kompetisies aangewys.

Die groot vraag is, wat is hul wenresep?

Volgens Retha Rossouw, koördineerder van Jannas se pom-pomspan is daar verskeie geheime tot hul sukses.

Die eerste is om te wen, en te bly wen en dan ‘n goeie rekord te behou.

2012:

• Randfontein Skou – wenners

• Raca – afdelingswenners

• NEA – afdelingswenners

2013:

• Randfontein Skou – wenners

• Raca – afdelingswenners

• NEA – afdelingswenners

2014:

• Randfontein Skou – wenners

• Raca – afdelingswenners

• NEA – afdelingswenners (nasionaal)

2015:

• Randfontein Skou – wenners

Tweedens het hulle wat Retha beskryf as “‘n wêreldbekende afrigter” wat slegs van oorspronklike bewegings gebruik maak.

“Die musiek word ook persoonlik deur hom saamgestel,” het Retha bygevoeg.

Derdens het hulle ‘n ontwerper wat die span se kostuums ontwerp, en nie sommer enige Jan Rap en sy maat nie. Hul ontwerper was al betrokke by uitrustings vir Strictly Come Dancing, SABC-kanale 1, 2, en 3 asook M-Net.

Hul vierde geheim: hul hare en grimering word glo ook deur ‘n professionele persoon behartig.

Die laaste geheim is die honderde klein blink gelukbringers wat die span op hul kostuums dra. Die eerste jaar wat Jannas gewen het, was hulle deur hul kostuumontwerper vertel dat hulle Swarovski-kristalle op hul kostuums moet gebruik.

“Ons het die kwotasie gekry en amper omgeval maar toe sê ons dis reg en begin fondse insamel. Ons het later die kristalle gekoop en die ontwerper het dit op die kostuums aangewerk. Ons het daardie jaar eerste by die Skou gekom, toe sit ons elke jaar die kristalle op ons kostuums. Dit is te duur om elke jaar te koop en dit word nou as ons gelukbringers gesien.”

Die Jannas pom-poms sal Woensdag 29 April 6vm by Hoërskool Jan Viljoen optree vir die publiek. Vir enige navrae kontak Tamaryn Smith by 076 054 2108 of Retha Rossouw oby 071 230 1621.

Exit mobile version