News

Tegnologie renosters se nuwe vyand

Jou foto's van renosters op sosiale media kan stropers tot by hul prooi lei.

Volgens Save The Rhino, ‘n organisasie wat daarna streef om die bedreigte renosterspesie te bewaar, se webwerf is 1 215 renosters in 2014 alleen gestroop – dit is een renoster elke agt uur.

Dit is die 21ste eeu en stropers kan van die nuutste tegnologie gebruik maak om renosters op te spoor.

Vakansiegangers neem gereeld foto’s saam met renosters of olifante en laai dit onskuldig op Instagram vir vriende en familie om na te kyk, maar stropers kan die ingebedde geografiese inligting gebruik om hulle tot by hul prooi te lei.

Wildreservate, asook nasionale en internasionale wildbewaringsorganisasies waarsku nou dat stropers nie net sosiale media gebruik om renosters te vind nie, maar ook gesofistikeerde tegnologie soos drones – digitale kamera gemonteer op ‘n radiobeheerde vliegmasjien.

Volgens Richard Thomas, internasionale koördineerder van Traffic (wildlife trade monitoring network) is dit kommerwekkend maar nie uniek aan Suid-Afrika nie.

“Dis nie net ‘n probleem in Suid-Afrika nie. In Indië moes ons die werkers vra om nie foto’s met geografiese inligting op die internet te plaas nie. Stropers het selfs by ons netwerk probeer inbreek om die halsbande op tiere te monitor,” het Thomas gesê.

Hoe lyk Suid-Afrika se renosterstatistieke?

In die vroeë 20ste eeu was renosters volop in Suid-Afrika en Asië met ‘n populasie van ongeveer 500 000. Vandag is renosters byna uitgewis.

Die Westerse swart renoster is in 2011 deur die IUCN (International Union for Conservation of Nature) as uitgewis verklaar. Stropers is as die hoofoorsaak geïdentifiseer.

Al vyf renosterspesies is as bedreig verklaar op die IUCN se Rooilys, waarvan drie as krities bedreig verklaar is. Volgens navorsers is daar vandag ongeveer 5 055 swart renosters in die wêreld.

Die stroperykrisis word toegeskryf aan die groeiende vraag na renosterhorings van lande in Asië, hoofsaaklik Vietnam en China. Vietnam is geïdentifiseer as die grootste verbruiker van renosterhoring. Alhoewel daar geen wetenskaplike bewyse is dat renosterhoring mediese voordele het nie, word dit glo vir ‘n wye verskeidenheid toestande gebruik wat strek van kanker tot ‘n babbelas.

Related Articles

Back to top button