Local newsMunicipalNews

Beurtkrag: Wanneer is genoeg nou genoeg?

'Beurtkrag stel ons in gevaar' — inwoner.

Die onderwerp van beurtkrag is op almal se lippe, dit gee ons grys hare en frustreer elke Suid-Afrikaner, maar moet ons net terugsit en die situasie aanvaar?

Definitief nie meen Henry Boyce, ‘n inwoner van die Loumarina plotte.

“Hoekom moet ons dit net hier los as ons lewens in gevaar gestel word? Die krag word van 6nm tot 10nm afgesit en dan werk ons alarms nie. Dit maak ons die ideale teikens vir diewe,” het Boyce gesê.

Boyce het vertel dat beurtkrag in die aande toegepas word maar deur die dag brand die straatligte vir geen rede.

“Dit voel of die munisipaliteit nie hul deel doen nie. Al veroorsaak ons nie die tekort aan elektrisiteit nie, probeer ons tevergeefs om ons geysers, ligte, swembadpompe, verwarmers en lugverkoelingstelsels af te sit om krag te bespaar, maar wat doen die mense in beheer van Randfontein en Westonaria om te help?” het Boyce vies gevra.

Volgens hom is die tyd om terug te sit en dit bloot te aanvaar verby. Hy glo Eskom is besig om met hul onbevoegdheid weg te kom en die staat vererger net die situasie.

“Dit is tyd dat dié wat verantwoordelik is vir die gemors by Eskom en die munisipaliteit verantwoordelikheid neem en oplossings vir die kragprobleem vind. Die burgemeester van Randfontein ry met ‘n peperduur motor rond; Mohlakeng en omliggende areas se inwoners betaal nie hul elektrisiteitrekeninge nie; geld wat beskikbaar gestel is vir opgraderings aan die dorp word nie gebruik nie; en al ons mense wat betaal om ‘n lewe te maak moet in die donker sit sonder om te kla,” het Boyce kwaad gesê.

Boyce glo dinge gaan baie erger word voor dit gaan verbeter en met ‘n ekonomie waar meeste Suid-Afrikaners klaar veg vir oorlewing is dit onrealisties van Eskom om te verwag ons moet nou maar net self die geld opdok vir kragopwekkers.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button