Local newsNews

Bye – ‘n Kykie na die aarde se hardwerkendste insek

'As mense net die waarde van die klein werkertjies kan besef sal hulle nooit weer ‘n by seer- of doodmaak nie'

Min mense het so ‘n groot passie vir bye soos Louie van Zyl van Mummy Honey – ‘n heuningplaas by Bredasrus net buite Kocksoord.

“Mense besef nie hoe noodsaaklik bye is vir die voortbestaan van die wêreld nie. Bye bestuif plante en daarsonder sal daar nie vrugte of blomme wees nie,” het Louie verduidelik.

Louie is al jare in die byebedryf. Hy vertel met trots dat sy besigheid nie bye by mense se huise doodmaak of uitroei nie. As iemand hom bel oor ‘n nes op hulle erf wat pla, neem Louie sy span daarheen en verwyder die bye met sorg.

Op sy perseel bou hulle korwe wat hulle ook aan ander verkoop. Hulle verkoop ook die heuning in grootmaat vir die kleinhandel. Mummy Honey neem ook hulle bye uit na plase om bestuiwing te doen, wat vir sommige boere die enigste uitweg is aangesien byebevolkings aan die afneem is.

“Die daling in die aantal bye aan die Wes-Rand is regtig ‘n groot probleem. As mense net die waarde van die klein werkertjies kan besef sal hulle nooit weer ‘n by seer- of doodmaak nie,” het Louie gesê.

Volgens hom is daar twee tipes bye in Suid-Afrika – die heuningby of Afrika-by (Apis mellifera scutellata) en die Kaapse by (Apis mellifera capensis). Een van die nadele van die Kaapse bye is dat hulle die Afrika-bye, wat baie harder as hulle werk, verdring en uitwis. Die Kaapse bye lê eiers naby die Afrika-bye se koningin. Omdat die reuk wat hulle afskei baie soos dié van die Afrika-koninginby is, verwerp die Afrika-bye hul koningin en hou op om haar te voer. Die korwe word so kleiner en die hele korf bye vrek mettertyd.

“Dit was 30 jaar gelede nog nie ‘n probleem nie omdat die Kaapse bye nie deur die warm Karoo na ons gebiede kon trek nie, maar ongelukkig het byeboere die bye in ons gebiede ingebring,” het Louie gesê.

Hy het ook gesê dat die Afrika-heuningby se getalle in die binneland reeds met byna 60 persent gedaal het sedert die Kaapse bye ingebring is – iets baie kommerwekkend vir boere is. Nog ‘n siekte wat vanuit die Wes-Kaap versprei is, is American Foulbrood wat deur Paenibacillus-bakterieë veroorsaak word. Dit verhoed dat die bylarwes in die korf ontwikkel. Die larwes gaan dan dood. Die siekte is hoogs oordraagbaar.

Bye is die hardwerkendste insekte op aarde en in sy kort lewe van ses weke produseer een by net ‘n teelepel heuning. ‘n Gesonde korf huisves sowat 80 000 bye wat in ‘n jaar 16 tot 20kg heuning kan produseer. Korwe wat agter nektar aangeskuif word, kan tot 50kg heuning produseer. Die bye vlieg letterlik hulle vlerke stukkend agter nektar aan.

“Die Afrika-by word bedreig en dit is ons verantwoordelikheid om hulle voortbestaan te verseker deur eerstens hulle nie dood te maak nie en tweedens hulle voedsel en lewensbron te bewaar. Moenie bloekombome voor die voet uitroei nie. Sekeres is wel deur die staat as nadelig geïdentifiseer, maar raadpleeg eers kenners om vas te stel watter tipe kan bly. Bloekombome gee die bye nektar deur die wintermaande waar daar nie andersins nektar beskikbaar is nie,” het Louie gepleit.

“Ons is enige tyd beskikbaar en vra net ‘n minimale bedrag om die bye te kom haal. Van daar af gee ons vir die bye ‘n plekkie hier op ons plaas om te doen wat hulle die beste doen – heuning maak. As jy bye op jou erf het wat nie pla nie, los hulle asseblief net daar. Bye sal nie uit hulle pad gaan om jou te pla nie,” het Louie vertel.

Louie se besigheid het HACCP (SANS)- en Halaal-sertifisering. Die maatskappy gebruik van die gevorderdste masjiene om die heuning te verwerk en te bottel en is trots op hulle skoon en higiëniese fabriek op Louie se plaas.

As jy rou heuning of korwe wil koop, of ‘n nes op jou erf het wat pla, skakel dadelik vir Louie by 072 796 8334.

Related Articles

Back to top button