Goeie Samaritaan en mensies binnekort op straat

Voormalige suster van hospitaal kort nou gemeenskap se hulp.

Byna haar hele lewe lank het Amelia van Wyk na ander omgesien maar nou is sy die een wat hulp nodig het.

“Dit het my hart gebreek om te sien hoe min mense regtig vir ander omgee. Mense wat verstandelik gestremd is of aan siektes soos Parkinson of Huntington se siekte ly word basies net by hospitale afgelaai en daar gelos om dood te gaan,” het Amelia vir die herald gesê. Sy weet waarvan sy praat want sy was jare lank ‘n suster by Paardekraal Hospitaal.

Een so ‘n geval was die 45-jarige Willie Lorem vir wie Amelia van die hospitaal af na haar huis toe gebring het. Volgens haar het Lorem maar ‘n skrale 50kg geweeg en was baie sieklik toe hy in die hospitaal opgeneem is.

Volgens Amelia is glo vasgestel dat Willie jare lank in ‘n kamer toegesluit was met bitter min sorg. Hy is nou ‘n gesonde 120kg en noem selfs vir Amelia ‘ma’.

Daar is nog vier ander mense in Amelia se sorg, onder andere haar ma, Lulu Jonk, 73, wat aan Parkinson se siekte ly.

Drienie Lewes, 38, wat met Huntington se siekte (HD) gediagnoseer is, is by die polisiestasie afgelaai omdat haar familie glo nie meer vir haar kon sorg nie.

“Ek kon nie meer werk en na die mensies hier omsien nie, dus het ek bedank en besluit om al my aandag aan hulle te gee. Willie en Drienie is nou meer soos my kinders en my eerste prioriteit is om hulle te versorg,” het Amelia bygevoeg.

Aangesien sy uit haar werk bedank het en haar vriend as gevolg van hartversaking ook moes ophou werk, kan Amelia nou nie meer kop bo water hou nie. Sy kon vir meer as ‘n jaar nie die huur in haar huidige huis bekostig nie en is basies uitgeskop.

“Ons het ‘n woonplek nodig wat groot genoeg is vir al my mense en diere – verkieslik met meer as drie slaapkamers – wat ook rolstoelvriendelik is. Ek kan op die oomblik R2 500 ‘n maand vir huur bekostig. Ek het wel aansoek gedoen om ‘n NPO-nommer te kry en dan gaan ons hopelik by die staat hulp kry. Ek wil dan ook ‘n dame of twee aanstel wat ek kan oplei om te help om mense te versorg,” het Amelia vol hoop vertel.

Hulle het op die oomblik nie elektrisiteit nie en gebruik ‘n kragopwekker wat ook net ‘n paar goed kan laat werk. Die mense word gebad in water wat buite in ‘n konka gekook word en al hulle wasgoed moet nou met die hand gewas word.

Amelia het ook basiese mediese toerusting, onder andere hospitaalbeddens met relings nodig.

“ Ek glo die Here wil my gebruik om die mensies ‘n beter lewe te gee. Ons het hulp nodig. Ek gee nie om vir swaer kry nie maar my mensies hier verdien dit nie en ek sal hand en tand baklei om hulle veilig, warm en gevoed te hou,” het Amelia vir die herald vertel.

• Navrae: As jy wil help of meer navrae het kan Amelia geskakel word by 072 571 9317.

Exit mobile version