Kragman met af been wil weer loop

‘Ek weet nie hoe om op te gee nie.' — Allan Bester.

Oud-Randfonteiner en welbekende wêreldkampioenskap-kragman Allan Bester is nie ‘n man wat sommer gaan lê nie.

Nadat Allan in 1984 op 19-jarige ouderdom sy been net onder die knie verloor het na ‘n skietvoorval, het hy nie toegelaat dat dit hom keer om ‘n vol, produktiewe en positiewe lewe te lei nie.

“Ek het voorheen rugby en krieket gespeel. Net na ek my been verloor het, het ek begin gimnasium toe gaan om fiks te bly en myself besig te hou. Daar het ek die sterk manne wat met swaar gewigte oefen raakgeloop en ek onthou iemand het gesê ek sou dit nie kon doen nie. Ek haat daardie woorde. Om vir almal en myself te bewys dat ek kan, het ek begin oefen,” het Allan vertel.

Sy harde werk en deursettingsvermoë het hom drie gouemedaljes tydens die 2001 Suid-Afrikaanse Powerlifting Kampioenskappe losgeslaan waar hy teen nie-gestremdes (able bodies) deelgeneem het. Hy het ook in Desember 2003 tydens die World Benchpress Kampioenskappe in die Slowakye 14de onder die nie-gestremdes geëindig.

Tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Liggaamlik Gestremdes in Maart verlede jaar het Allan ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel toe hy 140kg opgetel het. Hy was al telke male in die herald en ook ‘n slag in Huisgenoot vir sy prestasies.

Allan het baie trofeë, medaljes en rekords deur die jare verower, tot Junie laas jaar toe die lewe nog ‘n hindernis oor sy pad gestuur het.

“Ek werk op die myn, ondergronds en het ‘n drukseer ontwikkel op my geampiteerde been, net onder my knieg. Dit het ondraaglik seer geword en ek is dokter toe. Die dokters het sewe operasies later besluit om die been vier vingers bo my knieg af te sit. Dit was ‘n moeilike besluit maar dit was of dit of my lewe,” het Allan vertel.

Allan het intussen begin herstel en sy bobeen is verbind om reg te maak vir ‘n nuwe kunsbeen wat Allan en sy familie R160 000 gaan kos.

“Ons het medies, maar hulle dek net R30 000 van die been waarsonder Allan nie weer gaan kan loop nie,” het Ursula, sy vrou verduidelik.

Volgens Allan is dit doodeenvoudig nie ‘n opsie nie.

“Ek weet nie hoe om op te gee nie. Die paar maande weg van die werk af en van my been af is besig om my mal te maak. Ek gaan weer loop en dan gaan ek weer werk. Ek wil ook weer deelneem en aan myself bewys dat ek weer kan opstaan uit die as uit,” het Allan vertel.

Die Bester-familie kort wel hulp en omdat hulle nog nooit hoef te gevra het nie, kom dit maar moeilik. As jy voel jy wil die familie met ‘n donasie vir die nuwe been help kan donasies gedeponeer word by die bank besonderhede onder aan die berig.

Allan wil ook ‘n sterkmankompetisie in die dorp reël om te help om die fondse in te samel. Besighede wat wil help met pryse of enigiemand wat wil help organiseer kan Allan skakel by 084 259 3883/ 074 873 6935.

• Bank besonderhede: Mr. A Bester
• ABSA/ True Save
• Rek #: 9304211681
• Bank kode: 632005

Exit mobile version