Jannas ATKV-Jeugtak passievol oor koorsang

Koorafrigters en -begeleiers deur ATKV touwys gemaak.

Jannas is deesdae ‘n groot ondersteuner van die ontwikkeling en bevordering van koorsang. Volgens die skool is dit ‘n eerste vir Randfontein.

Hoërskool Jan Viljoen het (Maandag 23 Februarie) in samewerking met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) ‘n kursus vir koorafrigters en -begeleiers in die skoolsaal aangebied.

Verskeie koormeesters en -begeleiers van laer- en hoërskole van reg oor Oos- en Wes-Gauteng het die insiggewende kursus bygewoon.

Die bekroonde koorleier, komponis en internasionaal bekende Renette Bouwer het die kursus aangebied en ‘n leerervaring omskep in groot pret.

Renette het die ATKV-Jannasjeugtaklede verhoog toe geroep en binne ‘n paar oomblikke het sy dit reggekry om die soetste engelklanke uit die leerlinge na vore te bring.

10 skole is verteenwoordig en onderwerpe wat onder andere bespreek is, is hoe ‘n koor suksesvol kan saamsing en suiwere klanke produseer; opwarmingsoefeninge vir moeë kinderstemme; die samestelling van ‘n koor se repertoire; diksie; harmonie en die belangrikste, hoe mens koorwerk ‘n leerervaring vir kinders kan maak wat hulle kan geniet.

Almal het die kursus glo ongelooflik baie geniet en baie daaruit geleer. Elke kursusganger het ook ‘n handleiding en ‘n ATKV-sertifikaat ontvang. Die volgende koorkursus sal gedurende Junie vanjaar plaasvind en dan weer deur die ATKV-Jannasjeugtak aangebied word.

• Navrae: Marthie van Deventer by 011 693 5204.

Reinette tydens die kursus. Die leerlinge is van links Miana Bosman, Johannes Murphy, Robin Rabbie, Britney Golden en Adriane Moralo.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version