Local newsNewsSchoolsUpdate

Jannas weer die pom-pom kampioen

‘Die kwaliteit van die skole se optredes was briljant die jaar’ — beoordelaar

Tydens die 29ste Cheerleading en pom-pom kompetisie het die vier deelnemende skole weer gekook op die verhoog.

Die Randfontein Skou wat gasheer speel vir die lang afgewagte jaarlikse gebeurtenis was lewendig met mense wat die skouspel kom beleef het. Die Marquee op die A-veld was tjok en blok vol en die opgewondenheid was tasbaar toe die eerste skool, Rierand op die verhoog gestap het.

Die vier deelnemende skole hierdie jaar was Hoërskool Riebeeckrand, Hoërskool Jan Viljoen, Randfontein High School en Hoërskool Linden. Jannas wat die kompetisie al drie jaar in ‘n ry gewen het was laaste.

Vir die deelnemers was daar groot pryse geborg deur Panarottis en San Pedro Spur te wen met die derde plek skool wat R2 000 kry, tweede plek wenners het R3 000 gekry terwyl die kampioene R10 000 in die sak gesteek het. Elke deelnemer het ook ‘n eetbewys gekry.

Die beoordelaars wat moes besluit wie die kampioene vir die aand is, was Chané Smit, Monde Pele (So you think you can dance, Step up) en Sonja Nortman (Laerskool Culembeeck). Hulle het die skole beoordeel op die eenvormigheid van die hele span wat insluit; formasie, gebruik van verhoog, kostuums, area gebruik, toertjies, piramides, roetine, sinkranosering en die vermaak van die skare.

Volgens Sonja Nortman, een van die beoordelaars was die kwaliteit van die skole brilliant gewees die jaar en was dit vir haar ‘n voorreg gewees om deel te wees van die opwinding.

Aan die einde van die aand kon daar net een wenner wees en die skare het omtrent mal geraak toe Jan Viljoen vir die vierde jaar agtereenvolgens as die kampioen gekroon is. Rierand was tweede, RHS derde en Linden vierde.

Julius Katzke, Jannas se hoof het met trots saam met die res van die skool se onderwysers, ouers en leerlinge die oomblik gedeel.

“Ons hele skool is baie trots op die pom-poms vir al hul harde werk en voorbereiding vir die kompetisie. Baie dankie aan almal wat hulle tyd en moeite opgeoffer het en hopelik volgende jaar maak ons weer so,” het Katzke gesê.

Related Articles

Back to top button