Staaldiewe stroop Riebeeckmeer

‘Die diewe het gesê hulle maak my vrek as ek iemand vertel’.

Riebeeckmeer wat al vier jaar vir die publiek gesluit is het ‘n teiken geword vir diewe, gemorsjorse en hawelose mense wat nou daar in die aande slaap.

Wagte wat waak hou by die vroeër jare se gewilde swem-, braai-, visvang- en uithangplek is nou bang hulle lewens is in gevaar na diewe wat hulle betrap het, hulle gedreig het.

“Ek het Donderdag (19 Februarie) laat middag ‘n ouerige wit man met ‘n bakkie hier sien inry tot by die trein waens wat hier by die restaurant nog staan. Hy het ‘n paar mans afgelaai wat toe die wa se wiele begin afsny het. Ek het hulle gaan vra wat hulle doen maar hulle het net gesê hulle maak my vrek as ek iemand vertel,” het die wag, wat nie sy naam genoem wil hê nie die herald vertel.

Volgens die wag is hulle net twee aan diens en ongewapen en dus het hy besluit om maar so vinnig as moontlik spore te maak. Die rowers het net met ‘n stuk van die treinspoor gevlug en die trein se wiele net daar langs die pad laat staan.

“Ek dink hulle gaan dit op ‘n later stadium kom verwyder en ek glo nie ons gaan hulle kan keer nie,” het die wag bygevoeg.

Die gronde by Riebeeckmeer behoort nou aan die munisipaliteit en aloewel dit lyk of die gras gesny word en bietjie instandhouding gedoen word, is daar wel geen elektrisiteit nie wat beteken daar ook nie ligte deur die aande vir die wagte is nie. Die hek by die hoofingang is ook weg en talle plekke langs die draad omheining is oop gesny.

Die wag sê dat hy en sy kollegas die saak aan die munisipaliteit geraporteer het maar niks word omtrent die saak gedoen nie. Hulle het ook die Randfontein polisie gekontak maar sonder telefone is dit moeilik om hulle op die toneel te kry terwyl die diewe besig is.

Kaptein Appel Ernst het bevestig dat die polisie bewus is van diewe en kwaaddoeners wat Riebeeckmeer teiken. Sy het ook gesê dat die hoofingang wat oop staan dit maklik maak vir die diewe om vry toegang tot die gronde te hê.

“Ons probeer al lank om die mense wat die staal so steel by Riebeeckmeer vas te trek. Ons wil die publiek wat in die area bly vra om asseblief enige verdagte persone of voertuie wat by die meer vertoef, aan te meld by die polisiekantore. Ons vra ook mense om bewus te wees dat die meer gesluit is vir die publiek en geen ongemagtige mense daar sal geduld word nie,” het Kaptein Ernst gesê.

Exit mobile version