R’fontein blink uit by D2

Randfontein, Mohlakeng en Fochville se atlete vaar puik op die dag.

Vanjaar se D2-atletiekbyeenkoms vir laerskole is Donderdag op Hoërskool Noordheuwel se prestige sportvelde aangebied.

Die Gauteng Departement van Sport het 107 skole uitgenooi om met mekaar mee te ding. Nie al die skole kon die groot dag bywoon nie maar die wat wel daar was het hul staal gewys teen van die sterkste atlete in die distrik.

Randfontein, Mohlakeng en Fochville se atlete het puik gevaar op die dag. Daar was ‘n paar atlete wat met meer as een gouemedalje weggestap het.

Laerskool Rapportryer se Sandra Wijtenburg het weereens die ander atlete in die stof agter gelaat. Sy het die 800m vir dogters o.13 gewen terwyl Rappies se Kayla Minnie tweede plek gevat het en Lee-Ona Pretorius ook van Rappies die derde plek.

Sandra het ook die 1 500m gewen met ‘n rekordtyd van vier minute, 50 sekondes. Die vorige rekord in die ouderdomsgroep was vyf minute, een sekond.

“Ek is so bly, dit is presies wat ek wou doen vandag,” het Sandra opgewonde en uit asem verduidelik.

Nog ‘n Rapportryer-leerling wat uitgestaan het was Nicole Erwee wat 1,45m hoog gespring het in die dogters o.13-item.

Laerskool Randfontein se Tiaan Barnard (o.13) het eerste plek gevat in die skyfwerp 34,49m sowel as die gewigstoot 11,05m.

Die Kansa-span het ook seker gemaak kinders het sonskerm aan in die bloedige son en mediese bystand is verleen as kinders krampe gekry het. Daar was net ‘n paar ligte beserings deur die dag maar niks ernstig nie.

Van die skole wat deelgeneem het op die dag was: Laerskool Muldersdrif, Laerskool Fochville, Laerskool Losberg, Laerskool Dagbreek, Laerskool Jongspan, Laerskool Kenmare, Laerskool Noordskool, Laerskool Protearif, Westfields Primary School, Laerskool Rapportryer, Laerskool Randfontein, Randfontein Primary School, Phatudi Primary School, Curro Primary School, Kekosi Primary School, Laerskool Glenharvie, Laerskool Hekpoort en Melerato Primary School.

Besoek die gallery hier.

Exit mobile version