Stinkprobleem vloei deur Aureus

'Die munisipaliteit sê hulle het nie geld nie' – besigheidseienaar.

Besigheidseienaars in Aureus is woedend oor die riool wat al vir maande opstoot en oorloop in hul eiendomme.

Shutterlock in Fiatstraat is een van die besighede wat nou keelvol is.

“Die riool loop elke week in my perseel in en dan moet my kliente en afleweringstrokke deur die gemors ry en loop. Dit is ‘n groot probleem en dit is nou tyd dat die munisipaliteit dit uitsorteer,” het Dean van Zyl, eienaar van Shutterlock gesê.

Van Zyl kla die reuk wat nou konstant om sy besigheid hang sit kliente af en sy skoonmaakkostes is astronomies aangesien hy weekliks sy perseel moet skoonmaak en ontsmet.

Die riool het Vrydag (6 Februarie) vir die hoeveelste keer opgestoot. ‘n Paar dae later is dit deur die munisipaliteit skoongemaak, maar Maandag (16 Februarie) het dit weer oorgeloop. Die besigheid het duisende rande se skade gely omdat die voorraad wat op palette gestaan het op die gronde weggegooi moes word.

Die riool loop nou deur meer as vier blokke in Aureus voordat dit in ‘n vloedwaterdrein inloop. Dié dreine lei na riviere, wat beteken dat die water wat diere en mense later drink besoedel word.

“Dit is ‘n gesondheidsrisiko en ek wil nie eers dink wat dit aan die kwaliteit van Randfontein se water doen nie,” het Van Zyl bygelas.

Nog ‘n besigheid wat deur die riool geaffekteer is, is Hendrik van Wyk Vervoer in Chevroletstraat wat se trokke elke dag deur die gemors moet ry. Dawid Nagel, ‘n werker by Hendrik van Wyk Vervoer het bevestig dat die riool ‘n aanhoudende probleem is.

Volgens Van Zyl het die munisipaliteit die geblokte drein kom skoonmaak, maar moes hulle dit sonder masjiene doen.

“Ek het gevra hoekom hulle dit met die hand probeer skoonmaak, waarop die antwoord was ‘ons het nie geld om die masjiene reg te maak nie’. Nou vra ek, waarheen is die geld? Hoekom betaal ons belasting?” het Van Zyl kwaad gevra.

Die herald het kommentaar van die munisipaliteit gevra oor die probleem in Aureus en wag nog vir terugvoering.

Exit mobile version