Man sterf in gru-ongeluk

'Bakkie het glo 'n ander voertuig probeer verbysteek' — polisie.

‘n Man is Dinsdag (17 Februarie) oorlede nadat sy bakkie kop-aan-kop gebots het met ‘n aankomende trok op die Ventersdorp-pad slegs 5km buite Randfontein.

Die man wat glo van Sungate Farms se kant af gery het, het volgens polisie waarskynlik ‘n ander motor verbygesteek en nie die aankomende trok gesien nie.

Stanley Zak, die drywer van die trok (van Junior Hoppy’s Transport) het tervergeefs probeer links uitswaai vir die aankomende blou Ford Leisure bakkie.

Netcare 911 – wat eerste op die toneel was – het die bestuurder van die bakkie dood op die toneel gevind. Zak is na die Leratong Hospitaal geneem en is in ‘n stabiele toestand.

“Stanley was oppad terug van Rustenburg en het my ‘n kort rukkie gelede gekontak en gesê dat hy ‘n groot sny op sy kop het maar niks ernstige besings opgedoen het nie. Die trok het groot skade opgedoen en volgens my moes die bakkie baie vinnig gery het om die trok so te beskadig,” het Willem Boshoff, die werktuigkundige van Junior Hoppy’s Transport op die toneel verduidelik.

Polisie en verkeer het die pad toe gemaak terwyl die liggaam van die man en die trok van die toneel verwyder is.

Die identiteit van die man sal bekend gemaak word sodra die familie in kennis gestel is van sy dood.

 

Exit mobile version