Local newsMunicipalNews

Vervalle gebou wek kommer

Inwoners is bekommerd dié oogseer lok nou ook dwelmhandelaars.

Talle haweloses het die vervalle gebou op die hoek van Nartjie- en Palmlaan hul huisvesting gemaak.

Greenhills-inwoners is bekommerd dié oogseer lok nou ook dwelmhandelaars.

‘n Inwoner van Greenhills wat anoniem wil bly vir sy eie veiligheid het die herald vertel hoe ‘n bakkie elke middag by die gebou inry en eers weer die volgende oggend die gebou verlaat.

“Dieselfde bakkie staan elke dag by Greenhills Spar waar hy vervalste DVD’s verkoop. As hy laatmiddag weer by die vervalle gebou aankom sien ek gereeld mense wat by die gebou in loop en dan weer uit kom. Ek glo dit is mense wat by hom dwelms koop want hulle kom nie met DVD’s daar uit nie,” het die inwoner vertel.

Die ander mense en kinders wat daar woon verkoop glo handgemaakte items uit draad en ander goedere in die parkeerarea by Greenhills Spar.

Volgens Peter Dick, ‘n DA raadslid, is die gebou al ‘n geruime tyd ‘n bekommernis vir die Greenhills-inwoners.

Dick het drie weke gelede die watertoevoer na die gebou laat afsluit na dit onder die munisipaliteit se aandag gekom het dat die gebou se water en erfbelasting nie betaal is nie.

“Ons het die saak aan die munisipaliteit se regsafdeling oorgegee wat die saak verder sal neem. Die gebou sou oorspronklik ‘n woonstelblok wees maar die eienaars kon dit nie bekostig om die gebou klaar te maak nie, dus probeer die munisipaliteit die grond terugkry,” het Dick verduidelik.

Volgens die munisipaliteit se regspan is hulle en die eienaars van die gebou besig om die saak in die hof af te handel. Nie Dick òf die munisipaliteit was bewus van die mense wat in die gebou bly nie.

Die herald het die gebou besoek en was geskok oor die toestand waarin die mense leef. Die saak is aan raadslid Patricia Matuwane, lid van die Burgemeesterkommittee, oorhanding wat binnekort saam met haar span inspeksies by die gebou gaan doen.

Related Articles

Back to top button