Local newsNews

Swendelaar misbruik die dood

Besighede ingeloop deur man wat glo geld insamel vir sy 'oorlede dogter' se begrafnis.

As ‘n middeljarige man, netjies geklee, aan jou deur klop met ‘n storie oor hoe hy geld nodig het vir sy dogter se begrafnis, moenie hom glo nie.

‘n Oënskynlik baie hartseer, onbekende man het Woensdag 28 Januarie by Kobus van den Berg van Parys Begrafnisdienste se onderneming ingestap.

“Hy het my vertel hoe sy swanger dogter, Helien van Huyssteen, 21, vroeër die dag dood is en dat hy vir sy werkgewer drie kwotasies van begrafnisondernemers moes kry sodat hulle vir haar begrafnis kon betaal. Ek het hom toe gevra waar haar ID-dokument is maar hy het gesê sy vrou was by die lykshuis met die ID-boekie om haar uit te ken,” het Van den Berg gesê.

“Ek het toe vir hom ‘n kwotasie saamgestel met die inligting wat hy op ‘n papiertjie vir my gegee het en nie weer daaraan gedink nie.”

Op Dinsdag (3 Februarie) het die man by Randfontein Skryfbehoeftes ingestap, die kwotasie van Parys Begrafnisdienste vir die eienaar Conraad Rall gewys en vir hom R900 gevra.

“Hy het my vertel hoe sy dogter selfmoord gepleeg het en hoe sy vier maande swanger was. Hy het gesê hy is werkloos en dat hy dié bedrag gekort het om die kostes van die begrafnis te dek. Enigiets wat ek kon gee, sou hom help. Ek het dadelik onraad vermoed toe ek die kwotasie sien omdat ek Kobus goed ken,” het Rall vertel.

Rall het toe vir die man gevra om ‘n bietjie te wag, die kwotasie geneem en Van den Berg geskakel. “Die man het toe verskoning gemaak en gesê hy kom nou terug want hy wil net ‘n koeldrank by die winkel gaan koop. Hy het nooit teruggekom nie,” het Margaret Brits wat by ontvangs werk, vertel.

Volgens Brits het die man baie deftig voorgekom, asof hy op pad na ‘n begrafnis was. Sy het hom eintlik jammer gekry en sou maklik vir hom ietsie gegee het as sy geld by haar gehad het. “Ek het na Conraad se oproep die dorp se lykshuis geskakel en hulle het bevestig dat daar nog nooit iemand met die naam Helien was nie en kon ook nie die ID-nommer op hulle databasis opspoor nie. Mens lieg nie so oor die dood nie, dit is oneties en baie lelik om so op mense se gevoelens te probeer teer,” het Brits gesê.

Verdere ondersoek het bevestig dat die man by elke winkel in die straat gaan geld vra het – by die drankwinkel, slaghuis en kafee – en elke keer met ‘n ander weergawe van die storie van sy dogter. “Ek is die duiwel in want die man het in my naam gaan staan en bedel. Ek is net bly die kwotasie met my besigheid se naam op is by hom afgeneem. Ek wil ander ondernemings in die dorp waarsku teen sy slim plan om geld uit mense te kry,” het Van den Berg gewaarsku.

Die oorspronklike kwotasie met Van den Berg se handtekening daarop is wel by die man afgevat maar nugter weet of hy dalk kopieë daarvan gemaak het.

As hy weer sy streke probeer uithaal met so ‘n kwotasie of storie, skakel onmiddellik die polisie.

Related Articles

Back to top button