Local newsMunicipalNews

Vandalisme- en stankprobleem in Spoorwegstraat

'Dit is ‘n baie algemene probleem in Randfontein' — polisie.

Die Spoorwegstraat-inwoners naby die brugoorgang leef nou al twee maande lank met ‘n uiters onaangename doodsreuk saam.

Volgens Marinda Scheepers het die stank op die Metrorail-eiendom in November begin en al hoe erger geword. “Dit is onuithoudbaar, en as dit reën is dit asof die nattigheid die doodsreuk erger maak. Ons kan nie meer die vensters en deur van ons woonstel oopmaak nie. Ons vermoed dit is ‘n dooie dier wat besig is om te ontbind maar die gras is so lank ons kan dit nie waag om daar te gaan soek nie,” het Scheepers ontsteld vertel.

Die Scheepers-gesin woon al drie jaar in die huis in Spoorwegstraat en volgens hulle het nog niemand in dié tyd die gras op die stasieperseel gesny of die mure begin herstel nie. In ‘n berig deur ENCA News in Oktober het die Metrorail-woordvoerder Lillian Mofokeng gesê betogers wat die treinstasie gevandaliseer het, het ook items soos verf en toerusting gesteel waarmee die stasie onderhou moes word.

Die muur voor die Scheepers’e se huis is twee jaar gelede deur ‘n taxi uitgery. Volgens Colin Scheepers stop daar saans gereeld motors en dan word swartsakke, tuinrommel en enige ander gemors deur die gat in die muur gestort.

Sommige voetgangers gebruik die opening en die baie ander in die betonpalissade-omheining om kortpad oor die spoorlyn te stap. Die herald het in Mei berig hoe gevaarlik dit kan wees, toe ‘n 30-jarige man onder ‘n aankomende trein beland het.

Volgens Randfontein-polisiewoordvoerder kaptein Appel Ernst is dit ingevolge twee wette – die Suid-Afrikaanse

Vervoerdienstewet 65 van 1981 en die Wet

op die Regsopvolging

van die Suid-Afrikaanse Vervoerdienste 9 van 1989 onwettig om sonder toestemming ‘n spoorlyn oor te steek.

“Dit is ‘n baie algemene probleem in Randfontein aangesien die spoorlyn van Johannesburg af deur Randfontein loop. Die omheining het altyd die voetgangers uitgehou maar vandale het onlangs die betonpalissade-omheining beskadig,” het Ernst bygevoeg.

Sy het ook genoem dat dit die Suid Afrikaanse Spoorwegpolisiediens se verantwoordelikheid is om die treinspooroortreders op te spoor en vas te trek. Diegene wat betrap word dat hulle die treinspoor onwettig oorsteek, sal polisiestasie toe geneem word waar ‘n boete uitgereik sal word.

Die Randfontein Spoorwegdiens se bemarkingsdepartement is vir kommentaar gekontak maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Related Articles

Back to top button