Local newsNews

Hou jou huis dié somer veilig

Hoewel sommige misdaadsyfers gedaal het, toon die jongste SAP-statistiek dat die aantal inbrake en rooftogte by private huise die afgelope nege jaar met sowat 70 persent gestyg het, so sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Boonop blyk dit dat diewe en rowers die somermaande verkies – navorsing deur Yale toon dat …

Hoewel sommige misdaadsyfers gedaal het, toon die jongste SAP-statistiek dat die aantal inbrake en rooftogte by private huise die afgelope nege jaar met sowat 70 persent gestyg het, so sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

Boonop blyk dit dat diewe en rowers die somermaande verkies – navorsing deur Yale toon dat inbrake in die somer met minstens 10 persent en diefstal uit tuine en buitemuurse areas met ‘n volle 41 persent styg.

“‘n Paar ekstra voorsorgmaatreëls oor die volgende paar maande is dus aangewese om jou gesin en besittings te beskerm,” het Everitt gesê.

Hy skryf in die jongste uitgawe van die nuusbrief, Property Signposts, dat ‘n paar relatiewe goedkoop tegnologiese oplossings ingespan kan word om jou eiendom te beveilig en terselfdertyd by jou begroting te pas.

Dit sluit in:
• ‘n Betroubare alarm, aangesien ‘n sirene gewoonlik genoeg is om inbrekers te laat spaander. Dit kan ook aan ‘n sekuriteitsmaatskappy of buurtwag se responsstelsel gekoppel word.
• Sekuriteitsligte is ook goeie afskrikmiddels aangesien inbrekers en rowers gewoonlik donker gebiede verkies. Dit is ook relatief eenvoudig om bykomende buiteligte met bewegingsensors op te rig wat kwaaddoeners in die ‘kollig’ gaan plaas en wat ook jou alarmstelsel kan aktiveer.
• Bestaande buiteligte en selfs ligte in jou huis kan met tydskakelaars toegerus word sodat die ligte saans outomaties aanskakel, selfs al is jy nie tuis nie. Tydskakelaars kan ook aangewend word om ‘n televisiestel of radio aan te skakel om die indruk te skep dat mense tuis is, selfs al het jy nie ‘n “slim” sekuriteitstelsel wat jy met jou selfoon beheer nie.
• Vir groter eiendom is infra-rooi ligte buite die huis ideaal aangesien dit help om indringers se teenwoordigheid te verraai nog voordat hulle naby die huis self is. Sulke ligte kan ook aan alarmstelsels gekoppel word en sal die stelsel aktiveer wanneer iemand deur die infra-rooi ligstraal beweeg.
• Terselfdertyd is geslote baan tegnologie nou baie gevorderd en stelsels is beskikbaar vir tuisgebruik. Geslote baan televisiestelsels kan aan selfone gekoppel word sodat jy jou eiendom kan monitor wanneer jy nie tuis is nie en jy kan selfs foto’s van inbrekers neem.

Everitt sê voorts huiseienaars behoort ook ‘n lys te maak van die prosedure om alarms te aktiveer sodat hulle dit kan nagaan elke keer wanneer hulle vir vriende gaan kuier of met vakansie vertrek om seker te maak alles is aangeskakel voordat hulle vertrek.

“Goeie kommunikasie met jou bure sal ook vir baie meer gemoedsrus sorg. Goeie bure kan ‘n ogie oor mekaar se eiendom hou wanneer een van hulle nie tuis is nie en kan mekaar laat weet indien probleme opduik. Nog ‘n beter plan is om ‘n buurtwag op die been te bring,” sê hy.

En as jy onlangs ‘n nuwe huis betrek het of beplan om dié somer te verhuis moet jy beslis die slotte aan alle deure en veiligheidshekke vervang. Navorsing toon dat 75 persent van nuwe eienaars nalaat om dit te doen al is dit een van die swakste skakels in sekuriteit. Wie weet hoeveel mense het sleutels vir die voordeur van jou huis wat 20 of 30 jaar oud is.

“En al klink dit vanselfsprekend, moet mense tog onthou om nie boodskappe op hul boodskapdiens te laat nie wat die feit adverteer dat hulle met vakansie is – of om foto’s op sosiale media te plak waar hulle heerlik by die see baljaar nie. Jy weet nooit of ‘n “vriend” van ‘n vriend dit as ‘n uitnodiging gaan beskou om ‘n bietjie nader met jou huis – en jou besittings – kennis te maak terwyl jy nie tuis is nie.”

Related Articles

Back to top button