Local newsNews

Skielike dood van kind, 6, skok gemeenskap

'Sy wou graag eendag in die skoonheidsbedryf betrokke geraak het'

Die tragiese dood van ‘n sesjarige dogtertjie net meer as ‘n maand voor Kersfees het ‘n gemeenskap geruk.

Kristan Mileham is op Donderdagaand 20 November oorlede nadat sy volgens haar ma Chantell nog die oggend soos gewoonlik opgestaan en niks makeer het nie. Sy sê Kristan het weens nierversaking gesterf wat glo veroorsaak is deur ongediagnoseerde diabetes (suikersiekte).

“Sy het 11vm begin maagwerkings kry en 2nm begin braak. Ek het tevergeefs probeer om ietsie in haar maag te kry. Die aand het ek besef dat iets ernstig verkeerd is en met haar deurgejaag Life Robinson Hospitaal toe. Daar het die personeel en dokters haar baie vinnig behandel en flink opgetree, maar dit was te laat,” het Chantell hartseer vertel.

“Alhoewel my kind se simptome lig en onduidelik was, wil ek graag elke ouer daarbuite bewus maak van die simptome van diabetes of suikersiekte. Moet asseblief nie die kleinste waarskuwings miskyk nie en moenie dink dat jou kind net ‘n hoofpyn of ‘n ooraktiewe blaas het nie. Gaan kry so gou as moontlik hulp by ‘n dokter indien jy net die geringste vermoede het dat daar dalk iets fout is met jou kleinding,” het sy gepleit.

Kristan was volgens Chantell ‘n gesonde, vrolike meisiekind met goudblonde hare en die mooiste blou ogies. Sy was ook mal oor groente en het saam met Chantell gesond geëet en geleef.

“Sy het soos enige sesjarige kind van lekkers gehou maar het nooit oorboord gegaan nie. Sy was altyd ‘n aktiewe kind en was nooit oorgewig nie. Sy het baie van die buitelewe gehou,” het Chantell gesê.

“Sy was regtig ‘n mense-mensie en wou altyd almal om haar hê. Sy was altyd soos ‘n liggie om ons en wou graag eendag in die skoonheidsbedryf betrokke geraak het. Sy was ons modelletjie en sy los ‘n groot leemte in die hele familie,” het Tanya Velancé, ‘n plaaslike sanger oor Kristan gesê.

Tekens wat jy as ouer kan gebruik om vroegtydig ‘n diagnose te kry:

Die kind …

  •  is gereeld dors en kan nie sy/ haar dors geles kry nie
  • besoek die badkamer gereeld
  • is gedurig baie honger (dis dalk nie net ‘n groeistadium nie)
  • verloor vinnig en skielik gewig
  • is baie moeg en slaap graag deur die dag
  • is baie geïrriteerd of buierig
  • se sig verswak of hy/sy kla oor dowwe sig
  • Dogtertjies kry gereeld swaminfeksies.

“Ek hoop uit my hart uit dat elke mamma en pappa, juffrou en familielid die berig lees en dat ons saam ons kinders ‘n gesonde toekoms kan gee,” het Chantell bygevoeg.

Aangesien November Diabetesbewusmakingsmaand in Suid Afrika was, is dit elke ouer se verantwoordelikheid om die tekens en simptome te ken en dadelik op te tree as enige daarvan opduik.

Related Articles

Back to top button