Bejaardes by Tulbach Huis bederf met Kersete

'Vakansie is om die draai en mense kan ons maar skakel as hulle ‘n plekkie nodig het vir hulle ou mensies'

Tulbach Huis het die afgelope naweek hul inwoners met ‘n heerlike Kersete bederf.

Tulbach Huis bestaan al twee jaar in Randfontein en is geleë op ‘n plot in Wheatlands net buitekant Randfontein.

Gwen Fourie, eienaar van Tulbach Huis het dit goed gedink om die kersete voor te berei vir al hulle inwoners. Daar is ook van die ou mensies – wat ‘n rukkie terug omgekom het – se families wat die dag saam geniet het.

Voor die ete het almal hande gevat en saam gebid en dankie gesê vir die geleentheid om saam brood te breek. Gedurende die ete het Kobus Taljaard uit volle bors ‘n paar gelowige liedere gesing.

Die spyskaart het uit egte gekookte kos bestaan en na die hoofgereg is die lekkerste naggereg bedien om die ete af te rond.

“Vakansie is om die draai en mense wat weg gaan kan ons maar skakel as hulle ‘n plekkie nodig het vir hulle ou mensies om te bly gedurende die tyd. Ons het nog ‘n paar beddens oop met al die fasiliteite en werkers nodig om na hulle te kyk,” het Gwen gesê.

• Navrae: Gwen by 082 874 2653.

Exit mobile version