Local newsNews

Somer is vee se doodgaantyd

Sommige boere beskryf die lente en somer as die doodgaan-maande vir vee. Al ooit gewonder hoekom?

“Al ooit gewonder hoekom sommige boere die lente en somer as die doodgaan-maande vir vee beskryf?” vra dr Hendrik Naudé, ‘n veearts by die Randfontein Dierehospitaal.

“Aan die einde van die winter is die kosreserwes op meeste plase laag. Die voedingswaarde van die gras is baie laag en die skape en beeste word maerder. ‘n Maer dier se weerstand is laag. Boere probeer die situasie red deur byvoeding te gee. Ongelukkig weet meeste boere nie hoe die dier se spysvertering werk nie.

“Skape en beeste het ‘n grootpens waar grasse en voer deur organismes afgebreek word sodat dit verteer kan word. Hierdie organismes is spesifiek vir elke tipe gras of voer. As jy die diere ‘n nuwe tipe gras of voer gee, moet die organismes eers aanpas om die nuwe kos te verteer.

“Voordat dit gebeur ly die dier honger en word maerder. Daarom vrek baie van hulle. Die oplossing is om met byvoeding te begin terwyl die diere nog in ‘n goeie kondisie is, sodat die organismes betyds daarby kan aanpas.

“Baie skape en beeste vrek na die eerste reëns. Die groen gras, wat net na die reën opslaan, is basies net water. Die voedingswaarde van die groen grassies is baie laag en veroorsaak dikwels diarree wat die toestand van die diere laat verswak.”

Die oplossing?

“Hou aan om byvoeding te gee in kampe waar baie droë gras is. Hou die diere uit afgebrande en kort afgevrete kampe.

“Vroeg in die lente kom gifplante uit omdat hulle meestal goeie wortelstelsels het waarin hulle voedingstowwe stoor. Dis dikwels die enigste voedingsbron vir skape en beeste – hulle vreet dit en vrek.”

Die oplossing?

“Hou die diere uit kampe met gifbossies; bewei eerder kampe met ou gras en gee byvoeding.”

Related Articles

Back to top button