Ram-leerlinge leer speel-speel van wetenskap

Onderwysers laat leerlinge hulle belangsteling in wetenskap op 'n prettige wyse prikkel.

Die Nasionale en Provinsiale Onderwysdepartemente verwag dat elke leerling van Graad 4 tot 12 in Natuurwetenskappe minstens een volledige wetenskaplike ondersoek per jaar moet doen.

Dit het Laerskool Randfontein se Natuurwetenskappe-personeel onder leiding van Annie Nolan laat besluit om hul eie NW-Expo aan te bied.

Leerlinge in Graad 7 kon hul eie onderwerp uit een van 15 kategorieë kies. Hulle kon ook besluit of hulle in groepe van tot vier leerlinge of individueel wou werk.

Elke groep het ‘n plakkaat saamgestel wat die probleemstelling, hipotese, metode van dataversameling, data-analise en gevolgtrekking bevat het. Die plakkaat is vergesel van ‘n uitbeelding of eksperiment van die projek.

Die top projekte het gehandel oor energie-opwekking, chromotografie, koffie, vingerafdrukke, sure en basisse, waterkwaliteit en skoonheidsprodukte.

Die Graad 7- en NW-personeel het die leerlinge geassesseer en die punte word gebruik as deel van die vierde kwartaal se formele assesserings – ‘n prettige manier om te leer en punte te verdien.

Na die voltooiing van die assessering het die Graad 1 tot 6 leerlinge die geleentheid gekry om die NW-Expo te besoek wat ook ‘n blink idee is om leerlinge se belangstelling in Natuurwetenskappe by die skool te prikkel.

Annie sê dit was ‘n reuse sukses. “Dis ongelooflik om te sien wat die leerlinge in ‘n jaar geleer het; hoe uitgehonger hulle is om te eksperimenteer met wetenskap. Dit gee my hoop vir die toekoms want ek weet jong wetenskaplikes word van kleins af gekweek,” het Annie gesê.

Exit mobile version