NewsSchools

Ramkriekies gaan grootskool toe

'As ek eendag groot is wil ek niks word nie' — kleuter.

Indien ouers van Laerskool Randfontein se kleuterafdeling nie geweet het wat hul kinders eendag wil word nie het hulle beslis (Donderdagaand 13 November) verlede week uitgevind.

Die skool se kleuters, die Ramkriekies het hul sertifikate gekry om grootskool toe te gaan.

Voor die gradeplegtigheid het een van die groter dogters in die gehoor gelag en gesê, “Dis anders met die kleintjies. Hulle kry mos sertifikate vir wie die vriendelikste was in die klas.”

Die kleintjies het daardie aand nie soos gewoonlik kruisbeen op die vloer gesit nie. Klein blou stoeltjies is vir die Ramkriekies gerangskik sodat hulle soos grootmense kon voel as hulle daarop sit.

Hulle het een vir een op die rooi tapyt gestap. Die seuntjies het hul borsies uitgestoot en die meisies het verhoog toe gestap terwyl hulle van oor tot oor glimlag.

“As ek eendag groot is wil ek niks word nie, ek wil by my juffrou bly,” het een van die Ramkriekies oor sy toekoms gesê.

Klein Rochelle van den Berg het gesê, “As ek in Graad een is wil ek net pouse hê.”

Junior Lego het gesê, “Juffrou, ek het ‘n sixpack.”

Ouers kon nie ophou lag vir wat die Ramkriekies vir hul juffrouens te sê gehad het nie maar dit was nie lank nie of ‘n paar mammas en pappas bloos oor hoe hul kinders uit die huis uit praat.

Teen die einde van die aand het al die Ramkriekies In Kriekeskool voorgedra nadat hulle hul handjies amper afgewaai het vir hul familielede.

Related Articles

Back to top button