Local newsNews

Kuns al hoe gewilder in R’fontein

Dorp se eerste kunsmark 'n groot sukses.

Kuns word al hoe gewilder in Randfontein.

Dit was die algemene gevoel nadat die dorp onlangs sy eerste kunsmark (8 November) aangebied het. Randfontein Kunsmark is ’n projek van Hamilton’s Gastehuis en Cum Laude Kunsskool en die doelwit is om ’n platform te skep vir plaaslike kunstenaars om hul werk ten toon te stel en moontlik te verkoop.

Nege van Randfontein se top kunstenaars en studente van Cum Laude Kunsskool het hulle werke in Hamilton’s Executive Estate se pragtige tuin en onthaalsaal uitgestal.

Kunsliefhebbers het rustig tussen die verskillende uitstallings beweeg terwyl Yolanda Coetzee, ‘n klassieke kitaarspeler en haar studente gewys het wat in hulle steek.

Na die reuse sukses van die kunsmark beoog organiseerders om dit ‘n kwartaallikse instelling te maak. Die volgende een word vir volgende Februarie beplan.

Daar word op Maandag 1 Desember om 6nm ‘n belangrike vergadering by Cum Laude Kunsskool (Plot 40, Langweg, Kleinelandsvlei, Randfontein) gehou en alle kunstenaars en kunsliefhebbers word uitgenooi om dit by te woon.

Die vergadering se doelwit is om die Randfontein Kunsvereniging te stig en die Randfontein Kunsmark sal deel vorm van die Kunsvereniging se projekte. Die vereniging poog om ‘n netwerk van kunstenaars te skep waardeur inligting uitgeruil kan word, uitstalgeleenthede geskep kan word, kreatiewe funksies gereël kan word en waar kunstenaars mekaar kan inspireer en motiveer.

Planne vir volgende jaar sal onder andere tydens die vergadering bespreek word.

Alle kunstenaars wat belangstel of meer inligting wil hê, moet vir Magriet Botha by 082 465 2519 of Paul Roosenschoon by 076 187 7832 kontak.

Van die werke wat uitgestal is by Hamilton's gastehuis tydens Randfontein se eerste Kunsmark op 8 November.
Van die werke wat uitgestal is by Hamilton’s gastehuis tydens Randfontein se eerste Kunsmark op 8 November.

Related Articles

Back to top button